Tehuis geniet spog Moedersdagete

Wanneer dit kom by die beplanning van spesiale geleenthede en die mooimaak van Elizabeth Jordaan Tehuis op Cradock, neem Carien Nel graag leiding en dan weet inwoners dit gaan iets baie spesiaals wees.

Een van Carien Nel se tafelversierings tydens die onlangse Moedersdagete by die Elizabeth Jordaan Tehuis op Cradock.

Foto: Carien Nel Credit: SYSTEM

Wanneer dit kom by die beplanning van spesiale geleenthede en die mooimaak van Elizabeth Jordaan Tehuis op Cradock, neem Carien Nel graag leiding en dan weet inwoners dit gáán iets baie spesiaals wees.

“Ek geniet dit om die tehuis in ’n tuiste te omskep deur skilderye en kunsstukke asook borduurstukke teen die mure te hang,” sê Carien, die dogter van Celia du Plessis, ’n inwoner van dié tehuis.

“Ek skuif graag die meubels om gesellige hoekies te skep, en stal oudhede wat deur inwoners en hul families geskenk word op die tafels uit. Dit moet vir elkeen van ons inwoners ’n tuiste wees.”

Carien het ’n besondere voorliefde vir oudhede en met die onlangse Moedersdagete het sy 15 eettafels in die tehuis opgetower met unieke versierings.

“Ek het bedlampievoetstukke gebruik en outydse serpe onder om gedrapeer. Van my versameling hoede, wat vir my baie kosbaar is, want dit is hoede van my ouma-grootjies, oumas en ma, het ek bo-op die voetstukke as versierings gebruik,” sê Carien.

Volgens haar is die inwoners van die tehuis gewoonlik baie opgewonde voor so ’n geleentheid.

“Hulle weet daar is iets om na uit te sien. Dit gee my groot innerlike vreugde om dit vir hulle te doen. Dit is veral vir my kosbaar omdat my ma ook ’n inwoner is,” sê Carien.

You need to be Logged In to leave a comment.