DIE voorsitter van Marais Steyn Huis (MSH) vir Bejaardes, Rika Pienaar, het onlangs haar jaarverslag tydens die algemene jaarvergadering gelewer.
Die inwonertal staan tans op 35. ’n Woonstel is opgeknap en daar is agt inwoners wat selfversorgend in die woonstelle is. Daar is tans ’n waglys vir Marais Steyn Huis vir Bejaardes en Olienpark woonstelle.
Inwoners word toegelaat om tuin te maak en betrokke te wees by die verfraaiing van Marais Steyn Huis. Hannie Steyn en helpers het ywerig deelgeneem aan Tarkastad Landboutentoonstelling se huisvlyt-afdeling en pryse verower.
“Dit is vir die komitee en personeel van Marais Steyn Huis belangrik dat ons inwoners gelukkig en tevrede is. Ons stel ons ten doel om goeie versorging te lewer en ’n huislike atmos-feer te skep,” het Pienaar gesê
Op Saterdag, 10 Februarie vanjaar was Marais Steyn Huis 40 jaar oud. Marais Steyn Huis vir Bejaardes het ook ’n Facebook blad met 517 lede.
Tydens die onlangse inspeksie van die Departement van Maatskaplike Dienste en Gesondheid, is gevind dat daar ’n baie hoë standaard gehandhaaf word en aan al die vereistes voldoen is.
’n Gesondheidsertifikaat met 98% is aan Marais Steyn Huis vir Bejaardes uitgereik.
Tydens die September 2017 se algemene jaarvergadering was Rika Pienaar as voorsitter, Alet Zwiegers as onder-voorsitter en Winie Haarhoff as sekretaresse gekies.
“Alet Zwiegers bedryf twee maal per week ’n liefdediens haarsalon in ons Huis en ons dames se hare lyk altyd pragtig,” het Pienaar gesê
Marinda Coetzee se kontrak as bestuurder word in November 2017 vir nog ’n jaar verleng.
“Sy is uiters bekwaam en lewer werk van hoogstaande gehalte. Sy is altyd bereid om te luister en die ekstra myl te loop. Sy doen ook diens as tesourier. Alle inwoners lê haar na aan die hart.”
’n Bekwame verpleegspan met Suster Cathy Koeberg, staf verpleegster, Dezi Anderson en versorgers kwyt hul goed van hul taak.
In die kombuis is Bennie van Wyk as kok in beheer.
“Die gemeenskap van Steynsburg word hartlik bedank vir hul belangstelling en meelewing met ons Huis. MSH bedank elkeen wat gedurende die afgelope jaar hul harte oopgemaak en ruim gegee het, hetsy geldelike bydraes, vleis en groente.”
“Dankie aan elkeen wat klere geskenk het. Die wat ons nie kon gebruik nie, is verkoop. Baie dankie aan Steynsburg Tuinbouklub, Rolbalklub en Boere-unie vir hulp en donasies. Baie dankie aan Alet Zwiegers, Teresa Opperman en Estelle Kruger vir jul fondsinsamelings gedurende die jaar.”
“Die Lotto geld verseker dat ons volhoubaar kan voortgaan teen bekostigbare tariewe. Finansiële state is beskikbaar vir insae. Dank aan die bestuur vir hul diens en betrokkenheid,” het Pienaar gesê.