DIE tweedehandse winkel op die perseel van die Elizabeth Jordaan-tehuis het ’n groot mylpaal bereik toe sy inkomste die R100 000-merk oorskry het.
Volgens Jeanette Bezuidenhout wat die winkeltjie inisieer het, is hulle baie opgewonde oor die bedrag geld wat hulle al ingesamel het en gaan hulle daarvan bestee om die inwoners van die tehuis met allerhande luukshede te bederf.
Hulle het reeds ’n tafel en bankies laat maak vir bejaardes om op een van die lekker sonstoepe te sit en beplan ook om die stoep by die verswakte afdeling te verfraai en van sitplekke te voorsien.
Die winkeltjie is ’n paar jaar gelede tot stand gebring toe Bezuidenhout besluit het om ’n stoorkamer, waarin baie kledingstukke gebêre was, uit te pak, die klere te laat skoonmaak en met ’n winkeltjie in een van die kamers van die tehuis te begin. Dié kamer was in ’n kort tydjie heeltemal te klein en die bestuur het toe twee motorhuise aanmekaar laat breek vir ’n nuwe winkel.
Die huidige winkel is tans propvol met klere wat geskenk is en daar word ook handsakke, mansklere, skoene en kostuumjuwele verkoop.
Daar is ook ’n wit olifant-tafel.
“Daar het reeds lekker warm klere vir die winter ingekom en ons verkoop fluks aan die truie, baadjies en jasse,” het Bezuidenhout gesê.
Sy en haar helpers Kobie Joubert, Koko Lyell en Carien van der Merwe het hul hande vol om al die kliënte te help wanneer die winkel Maandae en Woensdae van 09:00 tot 10:00 oop is.
Mense wat wil kom koop of klere wil skenk is welkom om Bezuidenhout enige tyd te kontak.