DIE jaarlikse Laerskool Cradock/SPAR tennistoernooi vir laerskole het onlangs in Cradock plaasgevind en hierdie gesogte toernooi gaan van krag tot krag.
Veertien tennisspanne, van sover as die Paarl, Port Elizabeth, Oos-Londen en Bloemfontein het na Cradock gereis om aan die toernooi deel te neem en eg-plattelandse gasvryheid te beleef.
Cradock, die gasheerskool, se meisies- en seunstennisspanne het teen gedugte teen-standers te staan gekom.
Die toernooi-organiseerders, onder die bekwame leiding van Sonet Aucamp, het die program in fynere besonderhede uitgewerk, sodat alles seepglad verloop het.
Ricky de Klerk het as toernooiskeidsregter opgetree.
Die spanne het Woensdagmiddag, 22 Augustus aangekom en het by die Tuishuise en Victoria Manor tuisgegaan.
Verskeie funksies is vir die besoekers aangebied. Die spanbestuurders, afrigters en organiseerders is Woensdagaand by die Victoria Manor met die heerlikste boerekos uit die Karoo bederf.
Die hoofborge van die toernooi was Keith en Nan Tam, eienaars van Cradock SPAR. Die tennisspelers het elkeen ’n verrassings-pakkie ontvang en gelukkige trekkings het gesorg vir groot opwinding.
Die tenniswedstryde het Donderdagoggend begin. Wedstryde is ook gespeel op die bane van die Hoërskool Cradock, Voorbereidingskool, die Hoër Landbouskool Marlow en die Cradock-tennisklub.
SPAR het gesorg vir verversings by die bane en die spelers kon ook allerhande lekkernye by die snoepies, wat beskikbaar was, koop.
Donderdagaand het al die spelers by die tennisklub ’n vroeë aandete genuttig, want Vrydag en Saterdag se uitmergelende wedstryde het nog voorgelê.
Vrydagaand het die spelers worsbroodjies en ’n “marshmallow-braai” by Huis Vertue gehou, terwyl daar ’n skaap op die spit gebraai is vir al die volwassenes.
Die tenniswedstryde het in ’n baie goeie gees plaasgevind. In die rondomtalie-rondte het al die meisiespanne teen mekaar te staan gekom.
Aangesien daar agt seunspanne was, is die seuns in twee groepe verdeel en moes daar in die finale rondte oorkruis uitgespeel word.
Die uitslae van die toernooi was as volg:
) Seuns:
- (1) Grey (PE) (2) Selborne (3) Paarl Seunsskool (4) Hudsonpark (5) Stirling (6) Cradock (7) Volkskool (8) Curro (Boemfontein).
(1) Stirling (2) Clarendon (3) Collegiate (4) Cradock (5) Volkskool (6) Hudsonpark.
Die seunspan van Selborne het die beker vir die span met die beste sportmansgees ontvang.
Tydens hierdie toernooi het sportmanskap geseëvier, is nuwe vriendskapsbande gesmee en baie pret beleef.