Mieke du Plessis en Innis Marais is die wenners van die eerste Theron du Plessis Mini Mnr. en Mej.-kompetisie.Foto: VERSKAF


OP Woensdag, 11 April het deelnemers aan die jaarlikse Theron du Plessis Mnr. en Mej. CHS-kompetisie die planke betree om die gehoor te vermaak en sake uit te spook vir dié gesogte titels.

Tydens ’n spoggeleentheid in die AB du Toitsaal van die Laerskool Cradock is gaste begroet met ’n mistieke “Frozen fairytale”-tema wat duidelik te sien was van die dekor tot die slim versiering van die keurige aandete.

Altesaam 23 matrikulante van die Hoërskool Cradock het aan die kompetisie deelge-neem en reeds tydens ’n vroeëre geleentheid by die Victoria Hotel kennis gemaak met die beoordelaars.

Jan van Heerden, Nicola Jordaan en Raven Nel, almal bekende gesigte in Cradock, het die taak gehad om as beoordeelaars ’n wenner aan te wys. Afgesien van die matrikulante wat elk hul beste voetjie voorgesit het in die informele en formele rondtes, is gaste ook vermaak deur die deelnemers van die heel eerste Theron du Plessis Mini Mnr. en Mej.-kompetisie.

Hierdie pragtige deelnemertjies is almal gr. 3-leerders van die Cradock Voorberei-dingskool en het van dag een af met oorgawe en groot opgewondenheid hard geoefen om hul tydjie in die kollig so seepglad moontlik te laat verloop.

In die junior-afdeling is verskeie pryse op die spel gewees, van “Mooiste Glimlag” tot “Mnr. Spiere” en “Mej. Bene”. Die persoonlikheidspryse het aan PJ Nortjé en Ngako Mene gegaan. Janro Gerber en Ninke van Nuwenhuys is as tweede prins en prinses aangewys, terwyl Thinus Janse van Rensburg en Alexi Booysen as naaswenners gekroon is. Die wenners van die heel eerste Theron du Plessis Mini Mnr. en Mej. is Innis Marais en Mieke du Plessis.

In die senior-afdeling was die uitslae baie na aan mekaar en tot in die laaste minuut was dit nie ’n uitgemaakte saak wie met die louere sou wegstap nie.

Keezia Saptoe en Siya Caku-Caku is as Mej. en Mnr. Persoonlikheid aangewys.

Die tweede prins en prinses van die kompetisie is Siphe Nofukuka en Houghlynne Swart, met Siya Caku-Caku en Jade-Lynn Jagers wat as eerste prins en prinses gekroon word.

Die 2018 Theron du Plessis Mnr. en Mej. CHS-wenners is Ryan Gowar en Zanelle Weitz.

CHS het elke deelnemer, ouer en borg wat die aand moontlik gemaak het, bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.