MARKSTRAAT in dié dorp huisves ’n pragtige ou geboutjie van historiese waarde.
In 1905 is dié gebou, een van die eerstes in die straat, opgerig deur twee Engelse sakemanne, menere Haystead en Ford.
Dit was aanvanklik aangewend as boekwinkel en met verloop van tyd ook tabakwinkel. Vandag bestaan Haystead & Ford voort as groothandelaar op Middelburg, maar bedryf sake op ’n veel groter perseel.
Toeka tot Nou, wat reeds sedert 2013 oudhede en antieke ware verkoop, het in Junie verskuif na die geskiedkundige Haystead & Ford-geboutjie in Mark-straat.
Voete wat hul weg hierheen vind, ver-kneukel hulle nie net in die pragtige oudhede nie, maar kan ook kies en keur tussen kinderspeelgoed, geskenke vir oud en jonk en selfs kunsvoorraad.
Eienares Charlene Vorster sê haar voorliefde vir oudhede kom alreeds uit haar kinderdae – sy is ’n boorling van Kransbos in die Knysna-omgewing. Vandaar het haar lewenspaaie haar geneem na Port Elizabeth, Noupoort en uiteinde-lik Middelburg, en hier het sy nou behoorlik wortel geskiet.
“Middelburg is ’n mooi, geskiedkundige dorp en mens raak lief vir die hegte gemeenskap.”
Volgens Charlene het sy besluit om vanuit die ou Sneeubergfabriek na die middedorp te verskuif ten einde dit makliker te maak vir inwoners en toeriste om die winkel te besoek.
“Ons wil sommer baie dankie sê vir Middelburg se inwoners, want dis tog danksy hulle getroue ondersteuning dat ons nog bly voortbestaan.”
Enige persoon wat graag oudhede of meubels wil verkoop, kan met Charlene gedurende kantoorure kontak maak by 071 659 2281.