Top atlete pak mekaar in jaarlikse byeenkoms

DIE jaarlikse Bestmed TAMS Superspar Madibaz Top 10 Atletiekbyeenkoms het op 13 Oktober by die Cradock Sportkompleks plaasgevind.


DIE jaarlikse Bestmed TAMS Superspar Madibaz Top 10 Atletiekbyeenkoms het op 13 Oktober by die Cradock Sportkompleks plaasgevind.

Hierdie byeenkoms is vanjaar vir die 13de agtereenvolgende jaar met trots deur die Hoërskool Cradock aangebied.

Skole van so ver as Upington en die Boland reis elke jaar om hul atlete tydens hierdie voorseisoen-byeenkoms te laat kragte meet teen top atlete van regoor die land. Altesaam 49 skole het vanjaar aan die byeenkoms deelgeneem, met 841 atlete wat meegeding het vir die top posisies.

Die skool wat vanjaar die beste presteer het was die Kwaggas van die Hoërskool Outeniqua wat as toppresteerders met 8 933 punte op die ASA-tabel koning gekraai het. Die Hoërskool Despatch (8 642) en Hoër Jongenskool Paarl (850) het onderskeidelik in tweede en derde posisies geëindig.

Sterk, mededingende atlete het altesaam 158 goue-, 138 silwer- en 12 bronsmedaljes verower, ’n bewys van die hoë kwaliteit atletiek wat te sien was. Altesaam 20 byeenkomsrekords is tydens Saterdag se kompetisie verbeter.

Die Hoërskool Cradock se atlete het puik vertonings gelewer op die baan asook in hul onderskeie veld-items en sterk opposisie van skole soos die Hoër Jongenskool Paarl, Hoërskool Nico Malan, Hoërskool Pearson, Queen’s College en Selbourne High School oorrompel om in die algehele 16de posisie te eindig met 7 348 punte op die ASA-tabel. Altesaam 19 medaljes is deur die atlete van die Hoërskool Cradock verower.

Janade Bouwer het goue medaljes in die driesprong sowel as spiesgooi vir mans o.19 verower, terwyl Houghlynne Swarts in dieselfde ouderdomsgroep twee goue medaljes vir onderskeidelik verspring en spiesgooi gewen het.

Iviwe Booysen neem deel aan die 400m en 800m wedlope vir mans o.19 en wen in albei ’n silwer medalje.

Clairigan Jacobs het gewys dat hy enige dag met die langasems van groter stadskole kan kers vashou en het ’n silwer medalje in die 5 000m vir mans o.19 gewen. Marike Dannhauser het haar slag as naelloper gewys en ’n goue medalje los gehardloop in die 200m vir meisies o.19.

Verdere medaljes sluit in Zanelle Weitz se brons in diskus meisies o.19, Elanie de Wet se silwer in 800m meisies o.17, Roshay Hendricks se goud in 100mH vir meisies o.17, Beaulane van Jaarsveld se goud in meisies o.16 gewigstoot, Marine Wilken se silwer vir 1 500m meisies o.16 en Litha Hermanus se goud vir 100m meisies o.15 en silwer vir 400m in dieselfde ouderdomsgroep. Showan Mayeki het ook twee silwer medaljes vir 100m en 200m seuns o.14 gewen met JG Michau wat ’n silwer medalje in die seuns o.14 hamergooi ingepalm het.

Die atlete was bevoorreg om ook vir LJ van Zyl, Suid-Afrikaanse 400mH rekordhouer en Olimpiese atleet, by die byeenkoms te hê. LJ is ’n ambassadeur vir Bestmed en het behulpsaam geraak as afsitter vir die 400mH wedlope, tydhouer en ook ’n handjie bygesit deur medaljes aan suksesvolle atlete te oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.