OP Saterdag, 15 September is die eerste Tracks4Cancer ten bate van Graaff-Reinet Kankervereniging in die Camdeboo Nasionale Park aangebied. Johann Sparrius, organiseerder, het Mid-Karoo Express meer vertel oor dié inisiatief:
“Ek is self ’n kanker-”survivor”, en wou teruggee aan die plaaslike Kankervereniging. Synde ek ’n baie aktiewe atleet en fietsryer is, was die aanvanklike idee om net ’n stap/ draf/ fietsry te organiseer. En toe gebeur dit net – die plaaslike mense het mens so ‘oordonder’ met hul (welkome) ondersteuning en voorstelle, dat ons nie anders kon as om die breë gemeenskap ook rolspelers in die proses te maak nie. ’n Individuele idee het toe in ’n gemeenskapsprojek ontaard!”
Die personeel van die Camdeboo Nasionale Park het die waarde van dié idee besef en het Tracks4 Cancer as deel van hul Oop Week-ini- siatief geakkommodeer. Al die verskillende Tracks4Cancer-aktiwiteite het binne die park self plaasgevind.
Die 4×4 voertuie en avontuurfietse het die Drie-kopperoete in die park aangepak, terwyl drie plaaslike motorfietsgroepe ’n verbyrit op die R63 (Murraysburgpad) onderneem het.
Veteraanmotorentoesiaste het saamgery na die Valleihek van die park op dieselfde pad. Hier het voorskoolse deelnemers en rolstoel- en ge-stremde atlete op ’n korter roete weggespring, terwyl stappers, drawwers en fietsryers kon kies tussen die Skilpad- en Haasroetes deur die Gannalaagte- en Winterhoekgedeeltes van die park. Die fikse bergfietsgroep het kans gesien vir ’n stywe 45 km-roete verby die Andries Pretoriusmonument, deur die Winterhoekgedeelte.
Elk van die meer as 300 deelnemers het ’n “groen” medalje van lasergesnyde hout ontvang met ’n unieke ontwerp, eie aan elk van die 6 verskillende items waaraan deelgeneem kon word.
Toegang en deelname was gratis, en deelne-mers kon donasies maak ten bate van Graaff-Reinet Kankervereniging, wat alle fondse wat ingesamel word, aanwend ter ondersteuning van plaaslike pasiënte.
Die vereniging voorsien behoeftige pasiënte van kospakkies, vervoer- en verblyfkoste na onkologiese sentrums, asook tuisverplegings-toerusting. “Ons doen ook berading, tuisverpleging en lewer opvoedkundige praatjies by onder meer skole, sodat vroeë opsporing van kan-ker bevorder word,” vertel voorsitter Maxi van Aswegen. Graaff-Reinet Kankervereniging nooi kankerpasiënte, asook hul familie en vriende, om hulle te kontak. Skakel Hannatjie (049 872 3653) of Margie (082 447 7637). Die organiseerders van Tracks4Cancer het hulle dank uitgespreek teenoor die gemeenskap, asook die bestuur van die Camdeboo Nasionale Park.