Trane van berusting en aanvaarding

BINNE die raamwerk van ons menslike lewenssiklus stort ons basies drie soorte trane. Dié van hartseer, blydskap en so af en toe ook dié van selfverwyt. Hiervan staan hartseertrane ongetwyfeld heel voor in die ry. Want in ons lewens kry ons almal ’n r


BINNE die raamwerk van ons menslike lewenssiklus stort ons basies drie soorte trane. Dié van hartseer, blydskap en so af en toe ook dié van selfverwyt. Hiervan staan hartseertrane ongetwyfeld heel voor in die ry. Want in ons lewens kry ons almal ’n ruim kwota van dinge wat ons gemoed omkrap en ons traankliere tot oorkookens toe aktiveer. Die heengaan van ’n geliefde, ’n verbrokkelde liefdesverhouding, die trauma van ’n familielid of kind wat in die euwel van dwelms verval het. Die lys is legio.

In teenstelling daarmee loop trane van selfverwyt dikwels hand aan hand met die woordjie “as.” As ek maar na my ma geluister het. As ek maar nie in daardie verdomde bus of taxi geklim het nie. Dinge waaroor ons dikwels agterna spyt voel. Maar onge-lukkig laat die noodlot hom nie voorskryf nie.

In my lewe het ek hierdie trane al tot ’n punt van versadiging gehuil. Dié van blydskap natuurlik ook. Maar in die laaste tyd het ek ook met ander tipe trane kennis gemaak. Trane van aanvaarding en berusting. En dit danksy twee dramatiese gebeurtenisse wat onlangs op my lewenspad gekom het. Die tragiese heengaan van twee tieners wat die rowe van my eie twee seun-tjies se verlies bykans twintig jaar gelede weer afgekrap het. In albei gevalle het ek die bedroefde families se storie gaan dek maar dit voorafgegaan met ’nberadingses-sie uit die doldrums van my eie hartseer en verdriet. Die waardering op hul gesigte kan ek nie in hierdie beperkte ruimte beskryf nie.

Ná so ’n sessie met die gesin van ’n drenkeling pak ek voorverlede week te midde van ’n dreigende donderstorm die pad huistoe aan. En dis tóé dat ’n openbaring my vierkantig in die oë tref. Dat ek as instrument gebruik word om helende wyn en olie op die wonde van treurende ouers te gooi. Nes die barmhartige Samaritaan wat hom oor die halfdood reisiger op die pad na Jerigo ontferm het. En toe besef het dat God ’n plan met ons almal se lewens het. Al lei daardie plan ons dikwels na die ashoop van hartseer en verdriet.

En so het die ramp wat bykans twintig jaar gelede op my pad gekom het my tot ’n inspirasie vir andere getransformeer.

My omskep in ’n oase en fontein waarby treurendes kan kom drink en vertroosting vind.

Toe die eerste reëndruppels die stofdampe vanuit die dorre grond opwaarts loslaat, trek ek van die pad. Want toe was my sig reeds belemmer. Nie deur die druppels wat met ongekende reëlmaat my voertuig gepeper het nie. Maar deur my eie trane. Trane van aanvaarding en berusting . . .

You need to be Logged In to leave a comment.