Trans Baviaans MTB ’n belewenis vir Middelburg fietsryers

DIE uitmergelende Trans Baviaans 230km bergfietsmarathon het vanjaar op 11 en 18 Augustus plaasgevind.


DIE uitmergelende Trans Baviaans 230km bergfietsmarathon het vanjaar op 11 en 18 Augustus plaasgevind.

Die fietsryers het by Willowmore weggespring, waarna hulle deur die Baviaanskloof getrap het tot by Patensie en uiteindelik by Fountains Mall in Jeffreysbaai geëindig het.

Die Trans Baviaans word gereken as een van die uitdagendste enkelfase fietsmarathons in die wêreld wat binne 24 uur voltooi moet word.

Vir Middelburg se Lizanne van der Merwe en haar broer, Heinie Naudé, was 11 Augustus se Trans Baviaans MTB behoorlik ’n belewenis.

Hulle het die 230km in 12 ure en 45 minute voltooi. Een van haar grootste uitdagings was toe haar liggie se battery pap geraak het en sy die laaste 20km in die stikdonker nag in ’n smalspoor paadjie agter haar broer moes ry.

Vir Middelburg se vierman-span, bestaande uit Johan Appelgrein, Riaan van der Ryst, Dave Vorster en Craig Button, was 18 Augustus se Trans Baviaans MTB ’n reuse uitdaging. Hulle het die marathon in 17 ure 15 minute voltooi.

Volgens Van der Ryst was die marathon nie so erg fisies uitputtend nie as wat dit eerder belangrik is om jouself geestelik voor te berei en jou gedagtes positief in te span vir die 230km wat jy op die grondpad gaan wees.

“Die eerste 80km van die roete was die pad heel aanvaarbaar gewees, maar vanwaar die reservaat begin het, moes die ryers redelik tegniek inspan om deur die gate in die pad te stoei. By sommige plekke het ons selfs kniediep deur die water gery,” het hy gesê.

Hulle het almal saamgestem dat hulle dié marathon weer sal aanpak.

You need to be Logged In to leave a comment.