SOMERSET-OOS se Tuinbou- en leefstylklub het onlangs die plaas Paardefontein van Neels Lombard in die omgewing van Niekerksberg besoek.
’n Aangename verrassing het op die besoekers gewag, want soveel van verloklike en interessante be-sienswaardighede het op hulle gewag. Jackie, Neels se vrou, se kunstige hand was oral in die huis en in die tuin te sien en die “oe’s en aa’s” was volop. Opvallend is haar talent om van niks iets te maak. Die gasvroue was Jackie en Sarie Erasmus wat die dag gereël het en hulle was dan ook verantwoorde-lik vir die tee en versnaperinge gedurende die besoek.
Vir die leke-besoekers was Neels se voëlboerdery definitief uit ’n ander wêreld en die feit dat hulle sommer tussen die voëls kon rondstap, was ’n baie besonderse ervaring.
Stefan du Plessis van die plaaslike OVK-tak het gereël dat twee agente van Efekto ’n uitstalling van hul tuinprodukte vir die besoekers gereed het. Hierdie reeks dek ’n wye veld – van voedingstowwe vir plante tot gifstowwe. Die dames het dit leersaam gevind.
’n Besliste bonus van die gesellige oggend was toe ’n hele paar gelukspakkies, geskenk deur Efekto, getrek kon word. Onder die gelukkige wenners was Desmé du Plessis en Nancy Schneider.
Die stamperige rit terug kon nie daarin slaag om die gewaarwordinge en inspirasie van die genotvolle oggend by die dames weg te skud nie.
Met die klub se volgende vergadering op 20 April in die NG Kerk se teekamer het Alida Swiegers van Middelburg ’n praatjie gelewer oor die kondisionering en bewaring van snyblomme.
Alida behoort aan die “SA Flower Guild” en is baie in aanvraag as beoordelaar. Sy het pas die blommerangskikkings by die pas afgelope VLV-konferensie op die dorp beoordeel.