HOFMEYR-tuinbouklub het hul eerste vergadering van die jaar by Karen Fletcher op Tafelkop gehou.
Karen-hulle het twee wonings op die plaas, en Karen het dus twee tuine onder haar beheer, en die tuine sien pragtig daar uit.
Groot bome omring haar tuin en sy het reg rondom fyntuin gemaak met ’n verskeidenheid karoo- en inheemste plantegroei wat op die oomblik in vol kleur blom. Ook die vetplante is blink gesond ná die onlangse reën wat uitgesak het. Karen en Gerald Fletcher het verlede jaar groot skade gehad toe een van die groot bloekombome op hul huis omgewaai het. Karen, slim boervrou wat sy is, het egter die stompe van hierdie massiewe boom behou en oral in haar tuin word dit ingespan om hoekies te vorm waar daar gesellig gekuier word. As haar bejaarda skoonma, Geddes (die vorige inwoner van haar huis) kom kuier, is daar sommer oral ’n sitplekkie vir haar ook.
Die skade aan die huis self het egter by-kans agt maande geneem om te herstel, en dit kort nadat die ou plaashuis net meer as ’n jaar gelede heeltemal oorgedoen is.
As gasspreekster tydens die geleentheid het Nadia Bosch haar tuisgemaakte voël- tjievoerders kom demonstreer.
Sy gebruik slegs herwonne materiaal wat dan natuurlik ook sakpas en omgewingsvriendelik is.