INWONERS sien hulle daagliks in die somer langs die hoofpaaie – waar hulle amper smekend van vroegoggend tot skemer daardie stekelrige vruggie met hul hand omhoog hou.
Heel dikwels terwyl die son ongenadiglik op hulle neerbrand. Dan is daar ook die dankbaarheid wat mens op hul gesigte kan lees wanneer ’n voertuig langs hulle stilhou en die geldjie ná ’n suksesvolle tran-saksie in hul handpalms beland.
Turksvysmouse is van middel Januarie tot einde Maart ’n algemene gesig langs die hoofpaaie en in die plaaslike dorpe se sakesentrums.
Tog weet meeste mense weinig van die moeite wat hulle deurgaan om hierdie heilsame vruggie van die veld tot ons beskikking te bring.
Mid-Karoo Express het verlede Donderdag by twee turksvysmouse in Durbanstraat in Fort Beaufort gaan kers opsteek om meer oor die turksvybesigheid te wete te kom.
Hulle het naby die kruising van Somerset- en Durbanstraat op die lowergroen gras, bene uitgestrek, met hul dag se oes gesit.
Van die vruggies is in plastiek verf- emmertjies en aluminiumskotteltjies boep gepak. Hul geel tot dieprooi kleur verklap dat die seisoen stadig maar seker besig is om einde se kant toe te staan.
Luidens Nosinod Rooiland (74) en Nobantu Coko (79) verkoop hulle al jare turksvye in hul tuisdorp. Hulle maak geen geheim daarvan dat turksvypluk nie vir sissies is nie.
Dis ’n kuns wat nogal tyd vat om aan te leer. Hulle staan soggens douvoordag op sodat hulle teen sonsopkoms reeds klaar gepluk het.
Met emmers, seilsakke en draadhakke vaar hulle daagliks die velde langs die R63 tussen Fort Beaufort en Grahamstad in.
“Dis harde en gevaarlike werk wat vat aan jou voete en arms. Ons moet ook altyd op die uitkyk wees vir slange en wilde diere,” het Nosinod gesê, waar sy met haar uitgeskopte skoentjies langs haar heup gesit het.
Haar voete was oortrek van blase. Haar ouer vennoot, Nobantu, het haar linkeroog met kort tussenposes geknip.
“Ek het vanmôre die wind bietjie verkeerd gelees,” het sy verklaar toe sy oplet dat ek na haar oog staar.
“Daar het ’n dorinkie of twee in my oog beland. Daar is niks so irriterend soos ’n turksvydoring in jou oog of selfs aan jou tong nie.”
Hulle betaal daagliks elk R120 vervoergeld uit en tuis vir hulle en hul dag se oes. Op ’n goeie dag verdien hulle tot R500 uit die vruggies wat vir R30 per emmertjie verkwansel word.
“Die geldjies help ons om te oorleef terwyl ons op ons maandelikse pensioengeldjies wag. Daaruit koop ons ook goedjies vir ons skoolgaande kleinkinders,” het Nosinod verklaar. “Volgende jaar sal die Here weer vir ons voorsien,” het die twee amper gelyktydig gesê.