HIER in die laat veertiger jare van die vorige eeu het oom Hendrik se vrou gesterf. Dit was vir hom ’n groot hartseer. Hulle het net een dogter gehad. Hy het in die distrik geboer. ’n Motor het hy nie besit nie, maar ’n netjiese perdekar wat deur twee sweetvosse getrek is. Op sy perdekar en perde was hy baie trots. Hulle was goed versorg.
As oom Hendrik onder by die dorp ingery gekom het, was dit ’n wonderlike gesig. ’n Trotse man wat regop in die perdekar gesit het met die leisels in sy linkerhand en die peits in die regterhand. Langs hom het sy dogtertjie gesit. Nadat hy by die winkel en die koöperasie die nodige inkopies gedoen het, het die twee maar weer plaas toe gery.
Maar die alleen-wees het aan hom gevreet. En hy het al hoe meer begin besef dat sy dogter, wat begin groot word, die hand van ’n vrou nodig het, ’n ma wat haar kan lei en opvoed. En aan die vroue goeters ook aandag kan gee. Maar waar kry jy nou so ’n deugsame vrou? Hulle is maar skaars. En die wat beskikbaar was, het nie juis in sy smaak geval nie.
Op ’n dag hoor ons uit die bloute dat hy gaan trou. Met ’n vrou uit die Vrystaat. Die dorp het behoorlik daaroor gegons. Waar het hy aan haar gekom, het almal gewonder. Baie spekulasies het die rondte gedoen. Maar die gerug het die rondte gedoen dat hy haar deur die Opsitkers van die Landbouweekblad leer ken het. Hoe dit ook al mag wees, die twee is toe getroud, op haar tuisdorp in die Vrystaat.
Hierdie vrou het nie kinders gehad nie. Sy het oom Hendrik se dogter soos haar eie aanvaar. En Hendrik se dogter het haar ook as haar ma ten volle aanvaar. Hulle drie het ’n wonderlike gesin gevorm.
Maar die nuwe vrou, wat self ’n paar pond gehad het, het ook begin om dinge op die plaas te verander en te verbeter. Die kombuis is byvoorbeeld opgradeer met ’n binne stoof en nie meer die kookskerm buite nie. Die vetkerse is met paraffien lampe vervang en so algaande het die huis ’n metamorfose ondergaan met nuwe meubels. Sy het ook ’n netjiese tuin by die voordeur aangelê. Hendrik moes maar daarmee verlief neem en ook gehelp om van die koste te betaal. Nie dat hy vreeslik omgegee het nie. Die huis en die werf het sommer weer vrolik gelyk. ’n Mens moet ook jou lewensomstandighede geriefliker maak, het hy een-dag in die winkel gesê toe een van sy vriende ’n opmerking gemaak het dat sy werf sommer gaaf lyk met al daardie mooi blomme. Een aand toe hulle in die kamer is, sê sy vrou vir hom dat sy nou genoeg perdekar gery het. Hulle moet ’n motor koop. “Oor my dooie liggaam sal ek nie ’n kar koop nie,” het hy ergerlik gesê. Dit is te duur en dit gebruik petrol. Sy twee kar-perde kry voer wat hy nie hoef te koop nie. Dit kom van sy eie lande af. En buitendien, hy kan nie motor bestuur nie. Maar sy het deurgedruk en met haar eie geld ’n maand of so later ’n motor gekoop. Hy sou dan maar die passasier moet wees. Sy sal be- stuur.
So het hy maar, as hulle iewers heen ry, as passasier saamgery. Maar natuurlik het ’n man mos darem ook sy eer en hy vra haar toe om hom te leer motor te bestuur. Daar op die plaaswerf het sy vir hom die basiese goed van wegtrek, petrol gee en stuur en briek trap geleer – ook hoe om agteruit te ry. Gelukkig was die plaaswerf groot ge-noeg met baie spasie om te ry en te draai. Later het sy hom ook uitgeneem met die plaaspad tot by die plaashek.
Op ’n dag was die twee mense in die dorp om inkopies te gaan doen. Sy het bestuur. Hy het maar aardig gevoel om aan die passasierskant te sit. Wat sal sy ou vriende van hom dink? Die meeste van hulle kan motor bestuur. En hier word hy deur sy vrou vervoer.
Op pad terug, net buite die dorp, sê sy vir hom dat hy die laaste ent huis toe moet bestuur. So gesê, so gedaan. En dit gaan heel voorspoedig. Hy het effens rukkerig weg-getrek maar darem die spoor gehou en die ratte selfs glad oorgesit. Hulle kom toe by die eerste hek, hulle plaashek, en sy beduie vir hom baie mooi hoe hy nou moet maak om veilig stil te hou sodat sy kan uitklim om die hek oop te maak. Die oom ry netjies deur die hek maar toe vergeet hy hoe om weer te stop om sy vrou op te laai. En daar gaan hy. Hy is naderhand oor die eerste bult en hy ry maar net aan. Naderhand was hy papnat gesweet van senuwees want hy kry nie die motor tot stilstand gebring nie. En toe sien hy daar is die volgende hek aan die kom. Hier gaan nou groot fout kom. Hy bid sommer kliphard dat daar nou uitkoms moet kom. En skielik onthou hy. Hy skop die remme vas en die motor sleep tot ’n stilstand. En sommer ook vrek. Morsdood. Hy het probeer om dit weer aan die gang te kry, maar dit was tevergeefs. Maar niks help nie.
Hy het uitgeklim en langs die kar gaan staan. Want hoe om dit weer aan die gang te kry, weet hy nie meer nie. Sy hele onthou het hy weg geskrik. Sy verstand het tot stilstand gekom. En omdraai kan hy nie. ’n Hele ruk later eers het sy vrou daar aange-stap gekom. Ook nat gesweet en bloedig kwaad vir hom.
Sy het die res van die pad maar self be-stuur – in stilte. Wanneer hulle weer opgemaak het, weet ek nie. Ek weet net dat die ou man wel later hulle motor kon bestuur. En soos ’n regte jentelman het hy altyd vir haar die deur oopgemaak dat sy kon in- of uitklim. Dis nou wat gebeur as jy jou kar-perde vir perdekrag verruil.

