’n BOER van die Cradock-distrik het verlede Donderdagaand skade van minstens R70 000 gely toe veediewe op ’n trop van sy dragtige dorper-ooie toegeslaan het.
Dawid de Lange sê as dit nie vir die flink optrede van sers. Nicolaas Kula en konst. Tony Blaauw van die plaaslike veediefstal-eenheid was nie, sou sy skade aansienlik groter gewees het.
De Lange sê hulle het onraad gemerk toe die plaashonde skielik geweldig begin blaf het. Hy sê die twee speurders was binne tien minute ná sy telefoonoproep op die plaas en het dadelik die spoor in die donker gevat en die trop voorgekeer voordat hulle die teerpad kon bereik. Die diewe het probeer wegkom met 64 ooie en 22 lammers, maar met Blaauw en Kula se optrede het hulle daarin geslaag om 22 ooie terug te kry.
Die ondersoek na die res van die vee en verdagtes word nog voortgesit.
De Lange sê omdat die ooie nou so fluks lam kom hulle elke aand kraal toe. Hulle is dus baie mak en kan maklik, ook deur booswigte, aangejaag word. Hy vermoed Donderdagaand se diewe is dieselfde mense wat kort gelede ook ses ooie uit die kraal gesteel het.
“Die diewe is blykbaar bekend met ons bewegings op die plaas want hulle het toegeslaan pre-sies in die tyd toe my veewager gou huis toe is om iets te gaan eet. Nadat skelms by die vorige geleentheid by my gesteel het, het hulle die kraalhek weer versigtig toegemaak. Dit is nie so maklik om dadelik te sien daar is ’n skaap of twee weg nie,” het De Lange verduidelik. Omdat die ooie nou so hoog dragtig is, wil hy nie graag elke dag die skape rondjaag om hulle te tel nie, het hy gesê.