Verdagtes vasgekeer ná motorkaping

LUIS Correia, ’n sakeman van Middelburg, het Dinsdagmiddag die slagoffer van kapers geword.


LUIS Correia, ’n sakeman van Middelburg, het Dinsdagmiddag die slagoffer van kapers geword.

Hy was besig om lêers uit sy motor te laai nadat hy van die werk af tuisgekom het. ’n Man wat hom as ’n bedelaar voorgedoen het, het by sy agterdeur vir brood kom vra. Die volgende oomblik het hy Correia probeer oorrompel en die huis binnegedwing.

“Ons het tot in die slaapkamer gestoei – ek het my verset, want ek wou verhoed dat hy die huis binnekom. Hy het ’n gaspistool by hom gehad en dit op my gebruik. Ons het aanhou stoei, en ’n tweede aanvaller het my toegetakel. Ek het daarin geslaag om tot by my sleutels te kom, wat nog in die hek gehang het, en het die huisalarm geaktiveer.”

Die alarm het die aanvallers net effens van stryk gebring, maar uiteindelik het Correia daarin geslaag om los te ruk en weg te hardloop. Daarna het die aanvallers (daar was uit-eindelik drie) in Correia se motor gespring en weggejaag. Correia het in die straat afgestorm om hulp te ontbied.

“Gelukkig was die tweede voertuig wat stilgehou het ’n polisieman wat van diens af was – hy het dadelik die polisie ontbied. Ek weet nie wat ek sou doen as hy en die polisie en Oos-Kaap sekuriteit nie so flink gereageer het nie.”

Die aanvallers het die voertuig sowat 4 km buite die dorp op die Cradock-pad agtergelaat. Intussen het die flinke optrede van die polisie tot die inhegtenisname van twee verdagtes gelei.

Correia was gelukkig om met net ligte bese-rings weg te kom.

“Ek is ’n gelowige mens, en ek glo regtig Hy het my gehelp om die aanvallers af te weer,” het ’n dankbare Correia vertel.

You need to be Logged In to leave a comment.