Vermeende brandstofdief vas ná flink optrede van petroljoggie

DIE flink optrede van ’n petroljoggie by die Caltex vulstasie op Cradock het gesorg dat ’n vermeende brandstofdief vinnig aangekeer is.


DIE flink optrede van ’n petroljoggie by die Caltex vulstasie op Cradock het gesorg dat ’n vermeende brandstofdief vinnig aangekeer is.

Luthando Kayi, wat al vier jaar by die vulstasie by die dorp se ingang aan die noordekant werk, sê hy het niks vermoed toe ’n Toyota Avanza met ’n Kaapse registrasienommer en donker ruite Vrydagaand net voor 20:30 by hulle ingetrek het nie.

Die voertuig se bestuurder het versoek dat die motor volgemaak moet word, maar net tot by die eerste klik (dit is glo om te verhoed dat brandstof gestort word).

Volgens Kayi was die man goed gemanierd en het hy selfs die ander petroljoggie hartlik bedank nadat hy die voorruit van die motor skoongemaak het.

Terwyl Kayi op pad was om die kaartmasjien te gaan haal, het die motoris die enjin aangeskakel en gesê dat hy net ’n bietjie nader aan die kantoor wil stilhou. Hy het egter voet in die hoek gesit en weg-gejaag sonder om te betaal. Kayi het dadelik die noodalarm gedruk en terselfdertyd die polisie geskakel.

Die verdagte, wat na bewering dieselfde skelmstreek op Beaufort-Wes uitgevoer het, is 32km buite die dorp op die pad na Tarkastad in hegtenis geneem. Hy en sy twee passasiers was glo onderweg na Mthatha.

Bestuurslede van Caltex se hoofkantoor sou Dinsdag (16 Oktober) Cradock besoek het met ’n geskenk vir Kayi.

You need to be Logged In to leave a comment.