MIDDELBURG se gemeenskap het asem opgehou toe ’n agtjarige meisie Maandagmiddag om 16:00 as vermis aangemeld is.
Die Suid-Afrikaanse Polisie het onmiddellik ’n soektog begin en ook die gemeenskap gevra om op die uitkyk te wees vir dié kind. Sy is nagenoeg vier ure later ongedeerd by familievriende opgespoor.
Dit blyk dat sy alleen tuis was en vreesbevange geraak het toe ’n donderstorm Maandagmiddag oor die dorp losgebars het. Die ouers was baie verlig om haar tuis te hê en het die SAP en gemeenskap bedank vir hulle flinke optrede en besorgdheid.
Die bogenoemde voorval is sekerlik iets wat geen ouer hulself kan indink nie. Die volgende inligting is vanaf die SAPD-webwerf ingewin en word deur Mid-Karoo Express gepubliseer in die belang van kinderveiligheid.
Ouers:
. Moet kinders verkieslik nie alleen tuis laat nie, en indien wel, moet kinders vensters en deure gesluit hou.
. Weet te alle tye waar jou kind is, ken jou kind se vriende en onderwysers.
. Hou streng toesig oor kinders in winkelsentrums en by oop waterbronne.
. Leer jou kind jou selfoonnommer, sy eie woonadres en die polisie se nommer.
. Ken jou kind en kommunikeer met hom/ haar. Sodoende sal jy dadelik agterkom as iets nie pluis is nie.
. Leer jou kind dat hy die reg het om NEE te sê as hy ongemaklik voel in ’n situasie.
Wanneer kan ’n kind as “vermis” aangegee word? Anders as in die verlede, toe vermiste persone eers as sodanig aangegee kon word 24 uur ná verdwyning, word die publiek vandag aangeraai om onmiddellik by die naaste polisiekantoor om hulp aan te klop sodra ’n persoon vermis word.
Statistiek bewys dat ’n veel suksesvoller opsporingsyfer behaal word indien daar onmiddellik met ’n soektog begin word, en dat minder misdade gepleeg kan word teen vermiste/ ontvoerde persone indien ’n soektog onmiddellik van stapel gestuur word.
Wat moet ouers doen as ’n kind vermis word?
. Onthou die nut van sosiale media – maak gebruik van Whatsapp-groepe en Facebook om dadelik die gemeenskap te betrek – dikwels is ’n kind bloot by familie of vriende.
. Raak kalm sodat jy die nodige informasie dadelik aan die polisie kan verskaf.
. Gaan onmiddellik na die naaste polisiekantoor met ’n onlangse foto van die kind waarop sy/haar gesig duidelik vertoon. Maak ’n punt daarvan om op te let watter klere jou kind elke dag dra.
. Antwoord die polisie se vrae so volledig moontlik -–dit kan opsporing drasties bespoedig.
Bêre dié volgende Suid-Afrikaanse Polisie-noodnommers op jou selfoon:
Graaff-Reinet – 049 807 1100
Middelburg – 049 802 1113 of 049 802 1114
Cradock – 048 881 7118 of 048 881 7143