Verslaggewer gedreig by Rosmead vergadering

INWONERS van Rosmead was baie opgewonde toe Inxuba Yethemba Munisipaliteit binne slegs twee dae nadat hulle ’n memorandum van die Rosmead gemeenskap ontvang het, afge-vaardigdes gestuur het om met dié desperate inwoners te vergader.


INWONERS van Rosmead was baie opgewonde toe Inxuba Yethemba Munisipaliteit binne slegs twee dae nadat hulle ’n memorandum van die Rosmead gemeenskap ontvang het, afge-vaardigdes gestuur het om met dié desperate inwoners te vergader.

Woontoestande in dié klein stasiegemeenskappie het die afgelope jare drasties versleg, veral, volgens inwoners, sedert TRANSNET beheer van Rosmead aan IYM oorgegee het.

Die munisipale afgevaardigdes het ’n openbare vergadering op Donderdag 31 Mei met inwoners gehou.

Hul opgewondenheid was egter van korte duur. Met Mid-Karoo Express se korrespondent, Elsabé Pienaar, se aankoms, is die vergadering onderbreek deur ANC raadslede Sibongile Masawe en Vuyisile Bene.

Pienaar is deur die raadslede gekonfronteer en gedreig, ten spyte daarvan dat dit ’n openbare vergadering was en dat sy dit op uitnodiging van die gemeenskap bygewoon het.

Die raadslede het geweier om die vergadering voort te sit in teenwoor-digheid van die media. “Julle kan kies, die media kan bly, maar dan stop ons die vergadering!” het raadslid Masawe in Xhosa gesê.

Volgens Pienaar het sy die vergadering verlaat toe die munisipale afge-vaardigdes se houding aggressief begin raak het.

“Rosmead gryp mens aan die hart, en ek was saam met inwoners opgewonde oor die munisipaliteit se teenwoordigheid Donderdag. Dis jammer dat die munisipaliteit nie besef het dit gee hulle ook die geleentheid om ’n positiewe boodskap in die media uit te dra nie,” het Pienaar gesê.

Afgevaardigdes van die Concerned Community Forum, Neil Miller en Charles Featherstonehaugh, is ook deur Rosmead se gemeenskapsleiers na die vergadering genooi, maar hulle is ook kort ná Pienaar gevra om die vergadering te verlaat.

“Ek wonder of belastingbetalers bewus is dat IYM funksioneer asof hulle verhef is bo die land se konstitusie,” het Featherstonehaugh gesê.

“Verlede week is die begroting aanvaar deur ’n IYM vergadering sónder ’n kworum. Twee dae later word persvryheid van die tafel afgevee.”

“Om alles te kroon het Masawe en Bene hierdie vergadering in Rosmead wederregtelik gehou sonder die toe-stemming van die munisipale wyks-raadslid Ada Sammy.

“Die boodskap van dié munisipaliteit aan belastingbetalers is duidelik: júlle moet betaal, en óns sal ondemo-kraties besluit,” het Featherstonehaugh gesê.

Pogings om telefonies kommentaar te kry van ’n woordvoerder van die munisipaliteit was onsuksesvol.

You need to be Logged In to leave a comment.