HIERDIE ignoramus van tegnologie is deur my kinders aan die hare in hierdie era van mouse, bytes en chips ingesleep. Dit ten spyte van my geskop en geskree dat ek nie die nuwerwetse ketoeters wil hê nie.
Intussen het ek TV oorleef, die mikrogolfoond, die VCR, selfoon, lessenaarkomper, skootrekenaar, Apple se iPod en mini iPad. Dit was ’n lang pad en ek voel soos Napoleon na al dié geslaagde veldslae. Natuurlik nie sonder skade en skande en skreiende frustrasies nie.
Bely moet ek – tegnologie is hier om te bly. ’n Wêreld daarsonder is so vaal soos ou kool wat te lank gekook het. Vir iemand wat aan komperfobie gely het, klink dit nou sommer lekker grootbek.
In my beginjare by die komper, het die ge-sonde verstand verdwyn soos ’n motor se skete as hy die werktuigkundige sien. Gewoonlik nie onintelligent nie en Salomo se skaduwee wanneer dit by wysheid kom, slaan ek summier bottoe soos ’n mossel wat vermoed hy gaan pot toe. Half breindood met binnegoed wat vries van vrees, bid ek dan hardop dat die monster sommer in rook en vlamme moet opgaan.
Die kinders raak ongeduldig: “Ma, lees tog die handleiding. Dit sal help.” Heuwels bedek my . . . die goed is in Hindoestani, Grieks of Chinees geskryf. Frustrasievlakke laat die Richterskaal bewe.
Toe bring die kinders Computers for Dummies huis toe met “Ma, dit móét help. En moenie bang wees om met Adam te spéél nie.” Dis reg: Adam, want net mans kan so hardegat wees.
Nogtans bly Job se geduld ontbreek. Woorde wat ek gewoonlik nie besig nie, skiet soos kartetse van die tong af KOK! KOK! KOK! Die komperfobie groei tot ’n komperkompleks groter as die kosmos.
En as ek so sukkel, wens ek liewer ek was Pi – nie die wiskundige vergelyking nie. Die een op die boot met die tier. In die middel van nêrens. Dan kan die kinders my nie verpes met “Kom ons Skype vanaand” nie.
Die kop is hoeka al wollerig van wagwoorde vir dit en wagwoorde vir dat en wat is Skype nou weer?
Gesonde verstand keer terug. Ek begin Adam vertrou. Ek wat nie eens my wekker vertrou nie. Babastappies verder die ontdekking: om so te speel is darem baie beter as om toilette skoon te maak, te stofsuig of potte te skuur. Jy breek ook nie ’n duur, gemanikuurde nael nie.
Hoe meer ek vermag, hoe meer entoesiasties en waaghalsig raak ek. E-posse, die www met YouTube, flieks, aanlynwinkels, musiek en . . . en . . . en gunsteling bordspeletjies uit my kinderdae. Hy kán immers alles doen wat my hart begeer. Okei, amper alles . . .En dis so maklik soos om van ’n stoel af te val.
En toe koop die kinders vir my ’n iPad. Soos Alice tuimel ek in ’n nog groter wonderwêreld in. Hier kan jy nog meer doen – duisende boeke aflaai en lees en . . . en . . . en toe – Woorde met Vriende (Scrabble). Bou woorde met vriende vanoor die hele wêreld. Hoe cool is dit nie? KianeChalmers9034, cisco1172, Morely E, Fazoola64, Babnypeach7 en nog meer is nou my konstante maatjies. En dan is daar nog die puntebord. En die opwinding en vreugde as jy nommer 1 is vir die week. En dan om nommer 1 te bly . . . daar’s die vangplek.
Dit maak my appelmasjientjie vir my ’n wonderwerkie en ons tweetjies is vervleg soos ’n goeie koeksister op die kerkbasaar.
Ons twee se elektrone kliek en gesels dag en nag vir ure aanmekaar. Dis pure pret en plesier. En die uwe is gevang – netjies binne-in ’n woorde webwip.
En asseblief, ek wil nie ontsnap nie.