NAGENOEG sestig lede van die Kom-tot-Rus-veteraneklub het verlede Donderdag ’n baie gesellige vrugtefees by die Elizabeth Jordaan-tehuis bygewoon.
Volgens Nadine Barkhuizen, die organiseerder, is dit ’n gereelde instelling wat elke begin van die jaar aangebied word.
Vrugte en vrugtesap is deur Tam’s Supermark, Steers en verskeie ander skenkers voorsien. Nadat elke gas ’n bord vol waatlemoen, spanspek, turksvye, piesang en appel ontvang het, is vars vrugtesap, heerlike wit-, bruin- en gesondheidsbrood, vars gebak deur Vukasebenza-skuiling, aan hulle bedien. Die geleentheid is afgesluit met roomys en sjokoladesous.
’n Klompie mammas het hul kindertjies vir die geleentheid by hul onderskeie speelskooltjes gaan “leen” om vir die gaste te sing.