SONDAG, 2 September was ’n groot oomblik vir Middelburg se nuwe Victory Open Church toe hulle hul deure om 09:30 geopen het.
Die lede van die Agape-kerk het besluit om terug te keer na Sondagdienste om 09:30 elke week.
Ponnie en Ruthi van der Merwe is die herders van die nuutgestigte Victory Open Church op Middelburg, terwyl Deon en Dionne Schoombee en Jako en Mariaan Meyer aangewys is as leiers.
Die bekendstellingsdiens is deur pastoor Len Kok van die Victory Family Church van Cradock gelei.
Saam met die naamsverandering is daar verskeie ander aktiwiteite wat ook by Victory Open Church op Middelburg aangebied gaan word.
In die ouditorium gaan daar elke weeksdag vanaf 10:00 lofprysingsessies gehou word.
Van die vertrekke gaan omskep word in oefenlokale, met ’n klavier waar musikante kan kom oefen en hul passie uitleef.
Volgens Ponnie en Ruthi het hulle met hul vorige ervarings tydens die Karoo Mighty Men-saamtrekke van 2011 tot 2017 wat by Middelburg plaasgevind het, geweldig bewus geraak van die verskil wat gebed doen en wil hul mense aanmoedig om te kom bid.
By Victory Open Church is daar ook ’n gebedskamer beskikbaar indien persone hulle wil afsonder in gebed.
’n Gedeelte van die gebou in Nuwestraat, Middelburg word van 19 tot 21 Oktober ingewy as ’n koffiekroeg waar mense ’n heerlike koppie koffie kan kom geniet en tyd saam met hul vriende kan deurbring.
Groot opgewondenheid heers oor die Karoo-teater wat tydens ’n verskeidenheidskonsert daardie na-week deur Johnny Louw bekend gestel gaan word.
Vroeg in 2019 gaan die sportsentrum oopgestel word waar enigiemand kan kom oefen.