IN die tagtigerjare het die sakekamer van Middelburg meer as 2 000 bome aangeplant langs die vleigebied, wat aan die westekant net buite die dorp geleë is.
Dié aanplanting het ’n kaal stuk munisipale grond in ’n pragtige woud omskep, waar inwoners graag gaan stap.
Ongelukkig word dié ontspanningsarea nou bedreig. Inwoners van nabygeleë strate moet toesien hoe vragte en vragte hout op ’n daaglikse basis in sakke of op trollies weggedra word. Hoewel houtgaarders aanvanklik net optelhout verwyder het, het dit ontaard in ’n grootskaalse verwoesting van die aanplanting. Lewende bome word nou sonder meer afgesaag en die talle kort stompe wat weer uitloop, verklap dat reeds honderde bome só tot ’n voortydige einde gekom het.
Middelburg Forum het dié dringende kwessie onder die aandag van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit gebring, en verskeie foto’s aan die plaaslike owerheid gestuur via e-pos. Inwoners wat naby die vlei woon, vertel dat hulle gereeld hoor hoe daar met kettingsae ingelê word.
Voorsitter van die Forum, Engela Kruger, hoop dat die munisipaliteit vinnig sal ingryp. “Dit het imperatief geword dat IYM onverwyld ’n wetstoepassingsoffisier in Middelburg moet aanstel om hierdie tipe probleme in die kiem te smoor.
“Dit gaan die owerheid baie meer kos om ’n braakland van stompe te rehabiliteer, as om ’n wetstoepasser se salaris te betaal. Ons kan nie toelaat dat ’n kultuur van verwoesting ons dorp se natuurprag in puin lê nie. Dringende ingryping is nou nodig!”
Enoch Matoto, eenheidsbestuurder van IYM, het gaan ondersoek instel na die toedrag van sake, en Mid-Karoo Express het hom vergesel. Matoto was geskok oor die skade wat reeds aangerig is, en het onderneem om so gou moontlik iets hieraan te doen.
Volgens raadslid Handri Vorster is dit tans baie moeilik om hierdie tendens aan te spreek. Hoewel daar munisipale bywette is wat die afkapping van munisipale bome streng verbied, is daar nie ’n rand-en-sent-boete geheg hieraan wat as straf vir oortreding toegepas kan word nie.
“Tot tyd en wyl IYM die bywette hersien het en ’n wetstoepassingsoffisier aangewys is, sal dié jammerlike verwoesting nie gekeer kan word nie.”
Die SA Polisie is wel behulpsaam, soos in die geval van die bakkie-eienaar wat verlede week voorgekeer is nadat hy op heterdaad betrap is in die vlei waar hy groot bome afgesaag het.
Kuhle September, woordvoerder van IYM, het Mid-Karoo Express verseker dat die munisipale bestuurder, Xolela Msweli, aandag skenk aan dié probleem.