VLEISPRYSE sal ten spyte van die voortslepende droogte in groot dele van die Oos-Kaap na verwagting redelik onveranderd bly in die aanloop tot en met die Kersgety vanjaar, glo Francois du Toit, voorsitter van die rooivleis-produsenteorganisasie (RPO).
In dié gebiede waar die droogte steeds fel is, gaan produksie verseker nog verder afneem. Verdere verlenging van die droogte in daardie gebiede gaan katastrofies wees.
“Ons kan dus net glo en vertrou dat die weer mense se verwagtinge dat noemenswaardige reën nie voor November in die Oos-Kaap sal voorkom nie, nie bewaarheid sal word nie,” het Du Toit gesê.
Hy het voorts in ’n onderhoud met Mid-Karoo Express gesê dit is altyd raadsaam dat huisvroue vleisaankope vir die Kersgety vroeg begin doen voor die pryse in ’n stygende fase beland.
“Die probleem wat meeste huishoudings egter ondervind is dat daar nie genoegsame vriesspasie beskikbaar is nie. Die bedryf glo egter nie daar sal ’n afname in die produksie van rooivleis wees nie.
“Daar kan egter probleme ondervind word met die voer van diere. Hier kan pryse wat vir voer vir die diere betaal moet word ’n groot rol speel in die bepaling van vleispryse.
“Hoewel ek egter nie verwag dat vleispryse enigsins sal daal in die maande vorentoe nie, glo ek nie dat pryse drasties sal styg nie. Die kanse is groter dat dit meer sywaarts sal beweeg met ’n geleidelike styging hoe nader Kersfees kom,” het Du Toit gesê.
Hy het beklemtoon dat die gehalte van die vleis nie deur die droogte geaffekteer sal word nie en dat dit steeds op die hoë standaard waaraan verbruikers gewoond is, sal bly.
“Vleisproduksie is reeds onder druk as gevolg van die afgelope jare se droogte wat in groot gebiede van die Oos-Kaap nog glad nie verby is nie. Boere wat reeds erg onder kontantvloeiprobleme gebuk gaan, gaan net nog verdere druk ervaar met die aankoop van voer vir die diere.
“Ek voorsien egter dat die prys van mielies nie uitermate sal styg nie, maar ongelukkig kan dieselfde egter tans nie van lusern se pryse en beskikbaarheid gesê word nie.”
Hy het gesê produsente wat reeds groot bedrae betaal het aan voer vir hulle vee, dit nie sal kan bekostig om nou op te hou voer nie.
“In gebiede waar dit wel gereën het en sneeu geval het, gaan dit geweldig baie beteken vir die veld. Veral in bossieveldgebiede waar enige addisionele vog baie beteken vir groei van die bossieveld,” het Du Toit bygevoeg.