Vlug bring majesteit van skepping

EK plak myself op die heel agterste sitplek van die massiewe voël neer. Dis maar my tweede vlug. Deur die miniatuurvenstertjie kyk ek hoe die ander passasiers die vliegtuig se trappies bestyg.


EK plak myself op die heel agterste sitplek van die massiewe voël neer. Dis maar my tweede vlug. Deur die miniatuurvenstertjie kyk ek hoe die ander passasiers die vliegtuig se trappies bestyg.

Kort voor lank maak ’n vriendelike lugwaardin my daarop attent dat ek myself op die verkeerde sitplek bevind. Uit pure opgewondenheid het ek nooit op die kaartjie na my sitpleknommer gekyk nie. Spoedig bevind ek my op die middelste sitplek van die teenoorgestelde ry.

Langs my sit ’n dame in haar laat sestigs. Sy lees ’n dik engelse roman. Ek beny haar want nou sal ek oor haar skouer moet kyk om die prag en praal onder ons in te drink. Ek is ’n bietjie aan die lywige kant en die lugwaardin voorsien my glimlaggend van ’n verlengstuk vir my sitplekgordel. Na ’n vinnige veiligheidsdrilletjie deur twee lugwaardinne durf die groot onge-veerde arend die grenslose lugruim aan.

Ek kyk met kinderlike opgewondenheid hoe motors, mense en geboue onder ons al kleiner word namate ons bokant die diepblou oseaan begin rigting en hoogte vind. Die kolkende skuim van die branders op die strand onder ons voer my terug na die dae toe ek as kind ons komberse in ’n sinkbad met my voete skoongetrap het. My oë bly konstant gevestig op die grootsheid van die Skepping onder my, maar so af en toe vang my oog ’n sin uit die dame langs my se boek.

Op ’n stadium is daar ’n dik wolk tussen ons en die aardoppervlak. Kompleet nes ’n wollerige spookasemkombers. Hoog in die grenslose he-melruim, terwyl ons met ongekende spoed die kilometers opvreet, voel dit asof die vliegtuig doodstil staan. Die geruis van die groot enjins is al aanduiding dat ons in die diepblou lug na ons bestemming op pad is.

Die kaptein kondig aan dat ons op ’n hoogte van 35 000 voet bo seevlak vlieg. Ek verkyk my aan my medepassasiers. Digby honderd-en-vyf-tig van hulle. Almal sit doodstil. Nes gehoorsame sondagskoolkindertjies. Skuins oorkant my suig ’n kalant aan sy pinkie. Hy is ongetwyfeld ’n roker wat hunker na ’n dampie.

Toe die aarde digby Kaapstad weer vir my sigbaar word neem my oë foto’s van die asemro-wende tonele onder ons. Die Wes-Kaapse bergpieke lyk kompleet nes die rûe van dinosaurisse uit toeka se dae. Oor die golwende valleie kronkel ’n magdom paadjies. Nes die kenmerkende sluimsleepsels van slakke.

Enkele minute voor ons landing word ek be-koor deur die prentjiesmooi vrugteboorde en wingerde van die mooiste Kaap. Dit herinner my aan die netjiese tennisbane by Wimbledon. Waterpas op Moeder Aarde uitgelê.

Enkele minute voor ons landing herinner die loods ons aan die waterkrisis in die Kaap en moedig ons aan om water spaarsamig te gebruik. Toe die groot walvis my op die massiewe betonstrand uitspoeg gaan staan ek vir ’n wyle langs haar kolossale karkas. Want danksy haar kon ek die majesteit van die Opperkunstenaar aanskou.

You need to be Logged In to leave a comment.