CRADOCK VLV het verlede Vrydag ’n baie genotvolle uitstappie na Cinamon, die eerste pannekoek-restaurant op Cradock, onderneem.
By hierdie keurige restaurant kan daar uit vyftien verskillende wafels en twintig verskillende pannekoeke gekies word.
Karin Michau, die eienaar, het vertel dat pannekoeke nou reg oor die wêreld ’n nuwe mode is en dat allerhande vulsels, soos spek en eier, geroomde sampioene, spinasie, feta-kaas en selfs roomys deesdae in pannekoeke en op wafels bedien word.
Sy het vertel dat die eerste pannekoeke, “crepe suzettes” in Frankryk bedien is. Die mode het na Amerika oorgespoel waar dit as “flap Jacks” (kleiner pannekoeke wat op mekaar gestapel word) bekend geraak het.
In Suid Afrika het pannekoeke glo ontstaan toe arm mense, wat net meel, water en een eier in die huis gehad het, dun pannekoeke gebak het sodat die beslag so ver as moontlik kon strek. Op beter dae het hulle bietjie suiker, en later ook pypkaneel oorgestrooi.
VLV lede het geleentheid gehad om van al die pannekoeke by Cinamon te proe.
Daar was soet en souterige pannekoekvul-sels en daar is ooreengekom dat ’n pannekoek ’n hele maaltyd kan uitmaak en glad nie meer net ’n soetigheid by tee of kofffie is nie.
Een van dat die spesialis-pannekoeke wat volgens Karin net by “Cinamon” beskikbaar is, word “Happy Turk” genoem en bevat Turkse lekkers en roomys met ’n spesiale roossous oor. ’n Ander spesialis-pannekoek is een met Japanese hoender, gekarameliseerde uie en teriyaki-sous.
Na die eetfees het Rindi Goosen ’n baie interessante demonstrasie oor die maak van roossteggies gehou.