VOEDSELSEKERHEID kan slegs behaal word deur volgehoue samewerking rakende programme van die Staat, die landboubedryf, agroverwerkingsnywerhede, kleinhandelsektor, navorsing, opleidings- en akademiese instellings, asook die breë gemeenskap.
Die Minister van landbou, bosbou en visserye, Senzeni Zokwana, het Donderdag by Alice, tydens ’n besoek aan die Universiteit van Fort Hare, gesê hy kan nie die rol wat al Suid-Afrika se nywerhede en vennote hierin behoort te speel, oorbeklemtoon nie. “Ons het julle nodig om hulpbronne aan ons beskikbaar te stel om openbare en private vennootskappe te skep om die bedryf te groei.
“Die departement is bereid om ons vennoot-skap tans met nywerheid en opleidingsinstellings te verstewig om die uitdagings rakende voedselsekerheid soos werkloosheid, ongelyk-heid en armoede te oorkom,” aldus Zokwana.
“Alle nywerhede in Suid-Afrika moet hande vat om die bereiking van ons gemeenskaplike doel as ’n land te verwesenlik deur die tekort aan vaardighede en transformasie-uitdagings aan te spreek.
“Die Universiteit van Fort Hare het reeds aangedui dat hulle binnekort ’n departement van akwakultuur en marinewetenskappe by die Oos-Londen-kampus van die universiteit gaan vestig. Die nuwe departement beoog om ondergegradueerde en nagraadse kursusse aan te bied, terwyl dit ook sal optree as ’n navorsingstasie vir akwakultuur. Die department van landbou, bosbou en visserye se akwakultuurafdeling is bereid om ondersteuning te bied vir die vestiging hiervan.
“Dit is ons siening dat die vestiging van hierdie nuwe departement sal bydra tot die bevordering van die vaardighede en die uitbreiding van kapasiteit van die oseane-ekonomie,” aldus Zokwana.
Hy het bygevoeg dat die departement van landbou, bosbou en visserye met die universiteit sal saamwerk in die vestiging en bedryf van akwakultuurprojekte.
Aangesien daar tans slegs twee akwakultuurdeskundiges is, sal die departement se amptenare op ’n tydelike basis lesings kan aanbied.
“As die universiteit uitdagings ondervind wat die ontwikkeling van die departement bemoeilik kan die aangeleentheid na die departement van landbou, bosbou en visserye se akwakultuurafdeling verwys word vir die oplossing daarvan.”
Hy het weer beklemtoon dat die regering nie voedselsekerheid op sy eie kan vermag nie. “Ek wil al die nywerhede aanspoor om hande te vat om ons doelwitte te realiseer,” het Zokwana gesê.