Volkskool-swemmer is SA se trots

RIANCO Vermeulen (17), ’n leerder van die Hoër Volkskool in Graaff-Reinet, het die afgelope swemseisoen – wat Augustus 2017 begin en Maart 2018 geëindig het – weer gewys dat hy tot nog hoër hoogtes in die swembad in staat is.


RIANCO Vermeulen (17), ’n leerder van die Hoër Volkskool in Graaff-Reinet, het die afgelope swemseisoen – wat Augustus 2017 begin en Maart 2018 geëindig het – weer gewys dat hy tot nog hoër hoogtes in die swembad in staat is.

By ’n interskole gala te Graaff-Reinet in Maart vanjaar het hy en sy spanmaats ’n nuwe rekord vir die 100m-aflos opgestel. Hy het ook die SA Swemspan op Vlak 3 verteenwoordig deur verskeie items te swem; onder andere vryslag, borsslag, rugslag en vlinderslag. Hy het gekwalifiseer vir die finaal in vryslag. Rianco en sy spanmaats het ook silwer en brons medaljes by die SA-swemgala in twee 100m-aflosse verower. Hier het hy ook twee nuwe rekords in die 50m-vryslag en 100m-vlinderslag losgeswem.

Hy vertel dat die kompetisie sterk was met baie swemmers van ander Afrikalande wat deelgeneem het en dat die meeste van sy teenstanders oor die 2m lank was.

’n Groot eer het hierdie kranige swemmer ook onlangs te beurt geval tydens die NMBA-prysuitdeling in Port Elizabeth waar hy as die beste 16-jarige swemmer in die Oostelike Pro-vinsie in alle A-liga swemgalas aangewys was en ’n wisseltrofee ontvang het.

Op 9 Junie, tydens ’n spoggeleentheid, het Rianco ook pryse van sy swemklub in Port Elizabeth vir sy goeie prestasies gedurende die afgelope swemseisoen ontvang.

Hierdie vis in die water se ma het hom al van die ouderdom van vyf maande in die water laat dryf en toe hy drie was, was die water sy lewe; en so het hy geleidelik op swem en die towerkrag van water versot geraak.

Rianco het baie swemrekords laat spat en mettertyd het hy gewys dat hy nie arms en bene het nie, maar vinnige vinne wat hom geleidelik na al hoër hoogtes in sy ouderdomsgroep ge-neem het.

Die feit dat hy nie in ’n stad woon waar hy dwarsdeur die jaar afrigting kan kry nie, het hom nie ontmoedig nie. Inteendeel, dit het hom net aangespoor om nóg beter te presteer.

Sy droom is om eendag aan die Olimpiese Spele te kan deelneem.

Met elke klein oorwinning, raak hierdie begeerte net sterker.

“Ek sien al klaar uit na die volgende swemseisoen,” is sy antwoord op die vraag of hy nie moeg raak van swem nie. Hy voeg by, “Ek sal nooit moeg raak van swem nie, want ek staan ’n uitstekende kans om ná skool na die beste swemskool in Amerika vir afrigting te gaan.”

Rianco word tans deur Corli Ferreira, ’n oud-Gilliaan, in Graaff-Reinet afgerig en albei van hulle is trots op wat hy nou by SA Swem in Kaapstad bereik het.

Sy is van mening dat hierdie plattelandse seun uit die dorre Karoo definitief dopgehou moet word aangesien hy nog vir vele verrassings in die swembad kan sorg.

You need to be Logged In to leave a comment.