Volkskool vat Union aan by jaarlikse interskole

VERLEDE week het Union High School in Graaff-Reinet die jaarlikse sweminterskole tussen die Hoër Volkskool en Union by Volkskool se binnenshuise swembad aangebied.


VERLEDE week het Union High School in Graaff-Reinet die jaarlikse sweminterskole tussen die Hoër Volkskool en Union by Volkskool se binnenshuise swembad aangebied.

Marlien en Llewellyn Crewe-Brown, albei swemmers van Volkskool, het twee nuwe toe-kennings, senior Victrix en Victor Ludorum, gewen.

Hul moes egter hard vir die toekennings werk en elkeen het buitengewone goeie prestasies behaal. Llewellyn het aan ses items deelgeneem en vier rekords opgestel. Hy het eerste in die 100m vryslag ope – ’n nuwe item – gekom en die rekord opgestel.

Marlien het ook aan ses items deelgeneem, waar sy vyf rekords opgestel het, onder meer die 100m vryslag ope. Sy het die 4 x 25m individuekle wisselslagrekord met 17 sekondes verbeter en die 50m vlinderslagrekord met 9 sekondes.

Ander Volkskoolswemmers wat goeie eerste plekke verower het, was Marnie van der Merwe (4 x 25m individuele wisselslag), Marichen Piek (50m vryslag, 50m vlinderslag, 50m rugslag en 4 x 25m individuele wisselslag), Rianco Vermeulen (50m vryslag, 50m vlinderslag, 50m rugslag en 4 x 25m individuele wisselslag), Danè Thiart (50m vlinderslag en 50m vryslag), PJ de Goede (50m borsslag), Lynette Ittershagen-Strauss (50m borsslag) en Jaco Gouws (50m borsslag).

Die Volkskool se o.19A-seunsaflosspan het teen ’n tyd van 49,9 gekompeteer wat in 2014 deur Antonie de Beer, Lucian Laubscher, Erwin Ittershagen-Strauss en Arnu Grassman opgestel is. Hulle het die rekord na 49,88 verbeter.

Ná die 100m vryslagitem het Volkskool egter sy kop neergesit en laat waai en met die titel van interskole swemwenners vir 2018 uit die stryd getree met 389 punte, teenoor 343 van Union.

You need to be Logged In to leave a comment.