Van links is Coenie de Villiers, Rosie Visser, Etienne van Heerden en Dirk Visser by verlede jaar se veldsoiree.Foto:VERSKAF


VOORNEMENDE skrywers kan tydens Etienne van Heerden se tweede veldsoirée later vandeesmaand ’n veldskool bywoon waar hulle eerstehands van groot skrywers in die bedryf kan leer.

Die veldskool, wat reeds die aand van 20 September deur Van Heerden ingelei word, word die oggend voortgesit met lesings deur Chanette Paul, Izak de Vries, Maya Fowler, Fanie Olivier, Melt Meyburgh en Bibi Slippers.

Toegang is gratis. Dit vind by die Victoria Manor plaas.

Saterdagoggend se program, ook by Victoria Manor, begin om 09:30 tot 12:00 wanneer middagete (vir eie sak) bedien sal word. Dit sluit ’n bespreking van Die Wêreld van Charlie Oeng in, gevolg deur praatjies deur Izak de Vries, Kirsten Miller en Kobus du Toit.

Ná middagete sal Van Heerden self aan die woord wees gevolg deur skrywers soos Maya Fowler en Clinton du Plessis.

Tussen 15:30 en 16:30 sal Amos Mtetwa by die Groot Visrivier-museum se Cradock Vier-uitstalling gesels oor sy ondervindings gedurende die struggle.

Sondag verskuif die soirée na Buffelshoek waar die program om 10:00 begin. Fanie Olivier, Theo Kemp en Chanette Paul sal onder andere aan die woord wees.

Ná middag-ete (vir eie sak) gaan belangstellendes na Somerset-Oos waar die Jakes Gerwel-huis en die Battis-museum besoek kan word. Sprekers sluit in Ronelda Kamfer, Bettina Wyngaard, Karin Brynard, Nathan Trantaal en Dana Snyman.

Maandagoggend kan soiréegangers op Bufffelshoek luister na Darryl David, organiseerder van die soirée, Maya Fowler en Bibi Slippers. Middagete (weer vir elkeen se eie sak) sal bedien word tussen 12:00 en 13:00 waarna die uitstappie in ’n 4×4-voertuig na Olive Schreiner se graf op Buffelskop sal begin. Dit kos R150 per persoon.

Van waar die voertuie stilhou tot by die graf is daar ’n klipkoppie van ongeveer 600 meter wat geklim moet word.

Dié aand sluit die soirée af met ’n spitbraai in die lapa by Dirosie Lodge.

You need to be Logged In to leave a comment.