Voortrekkers kuier by Boknes

GEDURENDE die afgelope Aprilvakansie het daar 61 jeuglede (graad 7 tot 10) plus ’n groep volwassenes op die Voortrekkerterrein op Boknes kampeer.


GEDURENDE die afgelope Aprilvakansie het daar 61 jeuglede (graad 7 tot 10) plus ’n groep volwassenes op die Voortrekkerterrein op Boknes kampeer.

Onder leiding van Nig Susan Mulder, wat al 19 jaar kampleier van die Verkennerkamp is, is kinderervaringe beleef wat net nooit op ’n ander plek ervaar sal word nie.

“Wat hierdie kamp besonders gemaak het vir almal, is die feit dat Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers in Kaapland, dit saam met ons kon meemaak.”

Die gr. 7’s se spesialisasie is strandbewustheid en die medemens. Dus leer hulle meer oor die gevare en getye van die see en die kampgangers het die seelewe in die rotspoele by Cannon Rocks ondersoek.

Kennis wat die gr. 8’s die vorige jaar opgedoen het, word uitgebrei met see- en roeikunde.

Hulle roei met kajakke op die strandmeer en bou hul eie vlotte – ’n hele paar hiervan sink sommer al terwyl dit te water gelaat word.

Die spesialisasie vir die gr. 9’s is strandvernuf en die kennis wat hulle in die twee vorige grade opgedoen het, is hier saamgevat en meer intensief behandel.

Hulle het ook die geleentheid gehad om aan ’n potjiekoskompetisie deel te neem.

Afrikanergeskiedenis en voetslaners is die gr. 10’s se spesialisasie en die eerste deel is meer teore-ties van aard. Lesings oor die ABO is deur geskiedkundiges, Muntie Griebenouw en prof. Johan Hugo, aangebied.

Die groep het ook die Karel Landman-monument besoek waar hulle meer oor wapens en ammunisie van die ABO geleer het.

Die uitstappie is afgesluit met voetslaan op ’n staproete deur ’n wildsplaas van ’n vriend van die Voortrekkers in die Alexandriëdistrik. By sulke Voortrekkerkampe word baie vriende gemaak en van hierdie vriendskappe sal nog jare hou.

You need to be Logged In to leave a comment.