’n Muur van die Metodistekerk is deur ’n vragmotor beskadig. Foto: Elsabé Pienaar


DIE afgelope Sondag, omstreeks 17:00, is ’n muur van die Metodistekerk in Middelburg omgery deur ’n dubbele vragmotor.

Mid-Karoo Express was kort nadat dit gebeur het, op die toneel.

Volgens ooggetuies het die bestuurder nie lank getalm nadat hy die kerkmuur en sypaadjie ernstige skade berokken het nie, en het hy die dorp verlaat in die rigting van Steynsburg. Die Suid-Afrikaanse Polisie in Middelburg het egter flink opgetree, die registrasienommer is nagegaan en die SAP in Steynsburg is ook in kennis gestel.

Volgens Kurt Miles, wat op die kerkraad van Middelburg se Metodistekerk dien, is die eienaar van die vragmotor in kennis gestel en het hy reeds onderneem om alle onkoste vir herstelwerk te dek.

“Ons kerkgebou is bykans 150 jaar oud. Van die eerste setlaars in die gebied, soos die Collett-, Southey- en Biggs-families was gemeentelede.

Dit is ’n klein gemeente en bouwerk is met bloedsweet en skenkings gedoen. Elke stukkie van die kerkgebou, van stoele tot vensterrame, is met moeite bekom en die inhoud en kerkgebou self is van groot ge-skiedkundige waarde vir die dorp en die Metodistekerk in Suid-Afrika. Daarom is ons hartseer dat die kerkgebou in ’n ommesientjie so lelik verniel is.”

Ontstoke inwoners op die Stop Misdaad-whatsapp groep het behoorlik gegons oor die soveelste keer dat ’n vragmotor skade aanrig aan die infrastruktuur.

Volgens ’n gesagspersoon in die dorp, wat versoek het om anoniem te bly, is daar egter ook ’n ander kant aan dié munt. “Die hoë syfer vragmotorkapings in Suid-Afrika maak dit moeilik vir vragmotorbestuurders om sommer langs die pad ’n paar ure dringende slaap in te kry. Dikwels is dit ’n jong persoon wat net sowel jou of my eie kind kon wees, en min vragmotor- eienaars is bereid of kan bekostig om behoorlike oornagkoste vir bestuurders te befonds. Dit is ook aan die orde van die dag dat maatskappye groot druk toepas op bestuurders om ’n vrag in ’n rekordtyd by sy bestemming te bring.

“Uitputting is dikwels ’n oorsaak van noodlottige ongelukke, en daarom is dit ook wenslik dat bestuurders wel rus inkry. Natuurlik is daar, soos in dié geval, ook nalatige en onbedagsame vragmotorbe- stuurders, en met hulle moet behoorlik afgereken word. Tot tyd en wyl die nodige munisipale personeel aangestel word om dié probleme te hanteer, is die SAP uiters behulpsaam en bekwaam in dié verband.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article