OP Vrydag, 6 April het sewe 30-ton vragmotors uit Cradock weggetrek om voerskenkings na Aggeneys in die Noord-Kaap te neem.
Op Middelburg het die agtste vragmotor by die konvooi aangesluit.
Die inisiatief het in 2017 begin met Jaco (Wolsak) Mulder van Cradock wat in November die eerste maal met twee vragmotors voer na die droë Noord-Kaap vervoer het. Die Boes-manland gaan reeds die afgelope 5 jaar gebuk onder knellende droogte.
Hierdie toer was die vierde maal dat voer na Aggeneys, tussen Springbok en Pofadder, vervoer is. Die voerskenkings is deur Mulder en Johan Gerber van Cradock bymekaar gemaak.
Hulle het eers voer by Cookhouse opgelaai, vanwaar daar verder by Cradock, Hofmeyr en Schoombee voer gelaai is.
Alhoewel die voer deur die boere geskenk is, was fondse steeds nodig om die diesel vir die vragmotors te dek.
Om seker te maak dat die Noord-Kapenaars elkeen ’n regverdige kans kry om in die voer te deel, het ’n vrou van daardie omgewing, Hester Maasdorp, ’n slim plan beraam – elkeen van die Noord-Kaap-boere wat in die voerskenkings wou deel, is gevra om ’n klein finansiële bydrae, volgens sy vermoëns, te gee. Die fondse wat so ingesamel is, is dan gebruik om die dieselkoste van die vragmotors te dek.
Aanvanklik sou net sewe vragmotors die voer na Aggeneys neem, maar danksy al die voerskenkings wat ontvang is, het hulle ’n agtste vragmotor benodig. Kleinbegin Boerdery van Middelburg is toe genader waarna David (Colgate) Victor ingestem het om ook deel te neem aan die konvooi wat die voer 1 150km na die Boesmanland vervoer het. Die agtste vragmotor se diesel is egter deur skenkings van Middelburg se boere gevul en Victor het sy opregte dank aan die Middelburg-boere vir hul bydraes uitgespreek.
Met die aankoms Saterdagoggend op Aggeneys op die plaas van Deon en Hester Maasdorp, het 63 boere die vragmotors ingewag. Een van die vragmotors het ’n hyskraan opgehad waarmee van die groter bale moeitevry afgelaai kon word.
Van die voer moes egter nog 100km verder deur drie van die vragmotors vervoer word na Concordia, aangesien daardie boere nie self hul voer daarheen kon vervoer nie.
Mulder het ook gesê dat hy graag die boere en besighede van Cradock, Cookhouse en omgewing wil bedank vir hul ruimhartige bydraes, ondersteuning en voerskenkings om die boere in nood by te staan. “Saam-saam boer ons vorentoe,” het hy gesê