Vreugde oor kerke wat saamstaan vir behoeftiges

HIERDIE brief is ’n opvolg en reaksie op die brief van Freek Pockpas van Somerset-Oos wat in verlede week se Mid-Karoo Express op bl. 6 verskyn het.


HIERDIE brief is ’n opvolg en reaksie op die brief van Freek Pockpas van Somerset-Oos wat in verlede week se Mid-Karoo Express op bl. 6 verskyn het.

Hiermee wil ek my vreugde en blydskap uitspreek teenoor die indrukwekkende wyse waarop alle kerke te Somerset-Oos saamgewerk het vir ’n besonderse goeie doel, naamlik die finansiële hupstoot vir kankerpasiënte.

Dit is iets wat ek lankal reeds vra in elke gesprek met my vriende en familie: “Waarom kan die kerke nie saamwerk vir enige goeie doel ten bate van die gemeenskap nie? Waarom moet ek ons kerk en sy lidmate meerderwaardig as ander kerke ag, bloot op grond daarvan dat ons kerkgebou pragtiger is as ander kerke? Waarom moet denkwyses, soos ek hierbo noem, hooghartigheid en verwaandheid onder ons heers?”

Die probleem is die oorgrote meerderheid van ons sogenaamde “Christene” besit daardie neiging om alles wat leef op aarde op grond van uiterlike voorkoms te oordeel.

’n Sprankelende voorbeeld is: ek is ’n diaken by ’n siersteenkerkgebou, my tiendes word stiptelik op datum betaal en boonop is ek nog ’n staatsamptenaar in my beroep.

Beteken dit dat die Here sonder om te huiwer my vrylik in die Koninkryk gaan aanvaar op grond van my indrukwekkende posisies en besittings?

Apostel Paulus het in die Nuwe Testament, Efesiërs 4, gesê, “Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.”

Verder noem Hy ook dat daar verskillende kerke en bedieninge is, almal onder die regering van een God.

Aan die voorsitter Freek Pockpas sê ek hou so aan met die goeie werk wat julle doen daar in Somerset-Oos. Ek bid dat die Here dit ook moontlik moet maak hier by ons in Pearston.

Charl Strydom

You need to be Logged In to leave a comment.