EK was ’n laaitie in ’n tyd toe karre nog gecrank was. Dis nou daai slinger wat voor by die moutoekar se neus ingedruk is. Ná so drie of vier heftige draaie het die masjien gewoonlik eers gebackfire en dan met ’n gepoer-poer-poer begin luier. Die koms van die sleutel en aansteker het ’n era van verligting vir vele skouers en elmboë ingelui.
Dis in daardie tyd dat my kinderverbeel-ding aangegryp is. Deur niemand anders as ’n begaafde oom van my nie. Voorwaar ’n bobaas mechanic. Het vir geen enkele gewielde wonder teruggestaan nie. Ek kan amper sê hy is met ’n toolbox in die hande gebore. Elke meganiese probleem van enige kar, bakkie, trok of bus was vir hom ’n welkome uitdaging.
Male sonder tal wanneer ek verby ’n on-klaar motor langs die pad ry, dink ek aan oom Zol. Oor sy bynaam het ek nooit gewonder nie. Want wanneer hy aan ’n motor gewerk het, was sy beste vriend altyd in sy mond of agter sy oor. Sy zol. Dik geswaai met Leonard Dingler Boxer. In die bruin kardoespapier van daardie tyd. Van Lexington of Rothmans wou hy niks hoor nie.
’n Motor se masjien wat deur oom Zol oorgedoen is, was nog nooit gepush-, gekick– of gejumpstart nie. Nee, sommer met die eerste draai van die sleutel het hy gevat. Met sy groot hande kon hy ’n klein motortjie se enjin met ratkas en al uit sy borskas haal en op ’n metaal tafeltjie voor hom neerplak. Dan het hy sy ge-liefde zol met sy bensienaansteker gelig en peinsend na die stuk metaal voor hom ge-staar. Nes ’n moeder na haar pasgebore kind.
By my geboortedorp se twee motorhawens was hy in aanvraag. Maar hy het verkies om van die huis af te werk. Waar geen baas op hom sou staan of iemand hom sou aanjaag nie. En dan het hy ook nie ’n plaas se prys vir sy handewerk gevra nie. Van sy kliënte het hom dikwels sommer met ’n slagdingetjie betaal.
Oom Zol het altyd na ghries, olie, diesel of petrol geruik. Dit was sy handelsmerk. Na-weke het antie Dikkes al sy oorpakke goed met blouseep ingesmeer. Dan moes ek dit in oorle Ouma se groot sinkbad met my voete skoontrap tot daar so ’n dik olielaag rondom my kinderkuite was. Ek sou dan een van daai rooi eenrand note van my kleintyd as betaling ontvang.
Wanneer ek op Maandae oggende die pad skooltoe vat was oom Zol lankal halflyf besig om in ’n motor se borskas te krap. Midde zoldampe wat om die voertuig se enjinkap draai. Met ’n magdom spanners wat by sy overall se agtersak uitloer.
Nou anderdag gaan steek my getroue bakkie soos ’n steeks donkie handeviervoet vas. Sommer netso! Sonder waarskuwing. In die middel van nêrens. Toe ek voor die oop bonnet met die radiator cap in my hand na die mengsel van water en olie in die verkoeler staar, blaas my eie top gasket oombliklik. En toe verlang ek na oom Zol . . .