Waarnemende skoolhoof hartlik verwelkom

CHRIS Muller sluit hierdie jaar by Gill Kollege se personeel as waarnemende skoolhoof aan.


CHRIS Muller sluit hierdie jaar by Gill Kollege se personeel as waarnemende skoolhoof aan.

Hy is aangenaam verras met die ou geboue en die netjiese skoolterrein. Dis vir hom ’n riem onder die hart om te sien hoe trots die ouers en die kinders op hul skool is.

Van die stad na die platteland, verg ’n kopskuif, maar op hierdie vroeë stadium van sy verblyf is sy eerste indrukke van die dorp en die gemeenskap as sulks buitengewoon positief.

Hy is in 1955 in Mthatha in die Transkei gebore en het as kind saam met sy ouers eers Mosselbaai, daarna Burgersdorp, Buffelsjagrivier en toe Swellendam toe getrek.

Hy het matrikuleer aan die Hoërskool Swellendam en studeer ná skool aan die Wellingtonse Opleidingskollege. Later studeer hy verder en behaal dan ook sy B.Com.-graad.

Sy onderwysloopbaan begin in 1979 in Port Elizabeth by die Laerskool Tjaart van der Walt waar hy later as adjunkhoof aangestel word. Hier doen hy diens tot 1995. In 1996 word hy as skoolhoof by die Laerskool Diaz aangestel en is daar in diens tot 2012.

Hierna word hy as ontwikkelingsbeampte by die Oos-Kaapse onderwysdepartement in PE-distrik aangestel. Hy werk met 70 skole en sy pligte behels onder meer om skoolhoofde en skole te adviseer in verband met alles rakende onderwys, opleiding en bestuur.

Hy tree in Mei 2017 af, maar sy dae van terugsit, word onderbreek toe daar in Januarie 2018 ’n beroep op hom gedoen word om as hoof by Gill Kollege waar te neem.

Sy vrou, Elize, is verbonde aan die Laerskool Summerwood waar sy kuns en kultuur aanbied. Hulle het twee dogters, Marelize en Yolande en albei woon en werk in Johannesburg. Marelize het groot trouplanne in hierdie jaar. Yolande is reeds getroud en het ’n dogtertjie. Hul jongste, Rigardt, woon en werk in Port Elizabeth.

Muller se oë glinster as hy vertel dat hy ’n kranige hardloper is wat ook aan die baie gewilde Park Run deelneem. Voorts hardloop hy elke dag 5km op sy vaste roete wat hy alreeds vir hom om die dorp uitgewerk het. Nog ’n stokperdjie waarvoor hy baie lief is en tyd aan spandeer, is fotografie. Hy beplan om nog baie van Somerset-Oos se natuurskoon deur die lens van sy kamera te bekyk en vas te lê.

Muller het die laaste woord en sê, “Ek vind nog my voete, maar ek is van plan om my bes te doen om die standaard wat by Gill Kollege gestel is, in stand te hou in die tyd wat ek tot my beskikking het.”

You need to be Logged In to leave a comment.