INWONERS van Graaff-Reinet het die afgelope week op sosiale media behoorlik mond uitgespoel oor die voortslepende watertekort in die dorp.
Veral hoogliggende dele van die dorp, soos uMasizakhe, Bergendal, Queen- en Rothmanstraat is vir dae op ’n slag sonder water, en inwoners is nie tevrede dat die munisipaliteit alles in hul vermoë doen om die situasie te beredder nie.
Lorana Rubidge, wat in Cradockstraat woon, sê dat hulle die afgelope ses dae aaneen geen water gehad het nie. “My wasmasjien het vanweë die swak druk die gees gegee, en heelwat huise se warmwatertoestelle breek omdat hulle leegloop. Op die ou end is water ’n basiese reg. Die huidige situasie is nie net ongerieflik nie, dis onhigiënies! Waarom herstel die munisipaliteit nie net die pompe op die bestaande boorgate nie?” wou sy weet.
Volgens Liz Buisman van die Graaff-Reinet belastingbetalersvereniging (GRRPA) slaan die munisipaliteit nie toe op inwoners en besighede wat waterbeperkings verontagsaam nie, en hoewel die GRRPA graag ’n openbare vergadering met die munisipaliteit sou wou hê, is hulle aangeraai om griewe maar op ys te sit tot met die burgemeesters-uitreik op 29 April.
“Die munisipaliteit sê dis nie moontlik vir die watertrokke om volgens ’n vasge-stelde skedule water by spesifieke punte te lewer nie, wat dit nóg moeiliker maak vir inwoners om water te bekom. Ons het Dinsdagmiddag spesiaal gereël dat ’n watertrok by ’n spesifieke adres sou aandoen waar inwoners nou al dae lank sonder water is, maar die trok het net nooit opgedaag nie.”
’n Eienaar van ’n gastehuis in Parkstraat sê die munisipaliteit reageer nie op dringende e-posse en pleidooie om hulp nie.
“Ons maak staat op ons gastehuisinkomste – ons kan daarsonder nie ons munisipale rekening betaal of huishoudelike uitgawes dek nie. Tans moet ek gaste wegwys, omdat ek nie akkommodasie kan verskaf sonder water nie. Ons kan nie eens hande was of toilette spoel nie.”
Beyers Naudé plaaslike munisipaliteit het Woensdag weer eens ’n kennisgewing versprei waarin die publiek versoek is om water spaarsamig te gebruik.
“Die munisipaliteit moes die afgelope maande vanweë die droogte, kragonderbrekings en vandalisme baie uitdagings ten opsigte van watervoorsiening hanteer. Tans is die aanvraag meer as wat die boorgate aan die gemeenskap kan lewer,” lui die kennisgewing.
Weens die droogte en swak watergehalte kan die Nqwebadam tans nie water lewer nie, en word die dorp uitsluitlik van boorgatwater voorsien, maar die bestaande gate en werkende pompe kan in slegs 70% van die gemeenskap se behoefte voorsien.
’n Projek van R53 789 miljoen om grondwaterinfrastruktuur te ontwikkel in die noordelike boorgatveld en Mimosadale is in 2016 geregistreer by die departement van water en sanitasie, maar in 2018 is die munisipaliteit in kennis gestel dat drastiese inkortings aan fondse gemaak is, wat daartoe gelei het dat die boorgatontwikkeling gestaak moes word.
Nadat dringende pleidooie gerig is aan die departement, is die projek (volgens BNLM) hervat op 8 Februarie vanjaar en is die kontrakteur tans besig met verdere konstruksie.
