DIE Hoërskool Winterberg op Fort Beaufort het op 23 en 24 Maart aan die Despatch-sportfees deelgeneem waar hulle rugbyspanne hul staal gaan wys het.
Winterberg se tweede rugbyspan het in hulle eerste wedstryd gesukkel teen Cillié en gelykop met sewe punte elk gespeel. Hulle eerstespan het later daarvoor opgemaak toe hulle 48-0 teen Cape Recife gewen het.
Op die tweede dag het hulle tweedespan 7-14 teen Daniel Pienaar se derdespan verloor. Winterberg se eerstespan het later kragte teen Victoria Park gemeet.
Winterberg was reg vir die uitdaging, maar het net-net teen Victoria Park verloor. Die telling was 8-0 in Victoria Park se guns toe ’n onderskepdrie deur Aqhama Gushu vir Winterberg weer in die prentjie gebring het om die telling 8-7 te maak.
Victoria Park het nog ’n drie gedruk om die telling 15-7 te maak voordat Winterberg se agsteman, Sesona Caku-Caku, die bal agter die skrum opgetel het en ná ’n kraglopie oor die doellyn gegaan het om in die hoekie te gaan druk. Sibusiso Hans het die drie verdoel om die eindtelling 15-14 in Victoria Park se guns te maak.
Winterberg se netbalspanne het hulle ook goed van hul taak gekwyt tydens die Despatch-sportfees.
Die Apies het van meet af hul stempel afgedruk deur vir Andrew Rabie met 15 doele teenoor 11 af te ransel. Winterberg het op hul eerste oorwinning voortgebou met briljante verdediging deur hulpdoelverdediger, Tatum Hobbs, en hoofverdediger, Entle Nabe, en daarmee drie opeenvolgende oorwinnings verseker. Ongelukkig moes die dames voor Framesby (B) die knie buig, maar hulle het ongetwyfeld die beste vertoning van die toernooi vir laaste gelos. Winterberg het die Hoërskool Westering ’n netbal-les geleer deur 15-7 te wen.
Winterberg se hokkiespanne het ook aan die Despatch-sportfees deelgeneem en met elke wedstryd het hulle verbeter. Hulle het hul eerste twee wedstryde teen DF Malherbe en Nico Malan onderskeidelik verloor, en die volgende drie teen Nico Malan, Despatch en DF Malherbe gelykop gespeel.
Die Hoërskool Winterberg is trots op hulle spanne se goeie gees en wens hul sterkte toe met die seisoene wat voorlê.