< Petro Heunis word omring deur van die honde wat sy by Nkonkobe Animal Care op Fort Beaufort versorg. Foto:Nolan Venter


’n GESIN van Fort Beaufort het hul huis en harte oopgegooi om te verseker dat verwaarloosde honde en katte ’n veilige en liefdevolle heenkome het.

Mid-Karoo Express het onlangs die Heunis-woning in Charlottestraat op Fort Beaufort besoek om meer oor dié merkwaardige gesin se samaritaansdaad te wete te kom.

’n Stralende Petro Heunis (54) het die koerant by die hek ontmoet. Van agter ’n muur en selfs van binne die ruim huis het honde opgewonde geblaf.

Volgens Heunis het sy dié veilige hawe vir honde twaalf jaar gelede onder die naam “Nkonkobe Animal Care’ begin. “Ek het gehoop dat die plaaslike munisipaliteit ’n helpende hand in die versorging van diere sou verleen, maar daar het niks van gekom nie. Ek maak die afgelope twaalf jaar staat op donasies en hou ge-reeld fondsinsamelingspogings om kop bo water te hou.”

Heunis het ’n paar jaar gelede opgehou werk om voltyds by haar geliefde diere te wees. Die honde wat Heunis versorg, het vrye toegang tot hul huis en baljaar na willekeur in die agterplaas. Elkeen het ook sy eie warm slaapplekkie binne die huis. “Ek en my man het slegs ons slaapkamer en die sitkamer vir onsself afge-skort. Die honde het selfs hul eie televisiekamer,” het Heunis gesê.

Vir Heunis is dit ’n steen des aanstoots dat baie eienaars hul honde so verwaarloos. Volgens haar is ’n hond wat koud slaap, nie genoeg kos kry nie en ook vasgemaak word, nie ’n gelukkige hond nie. Voorts voel sy dat meer vir honderegte in ons land gedoen kan word. Onder die honde wat Heunis dikwels rehabiliteer is onder meer verwaarloosde, uitgehongerde, brandsiek- en veral ongesteriliseerde honde en selfs honde wat met kookwater verbrand is. Dis hierdie diere wat haar gedryf het om die sentrum in die lewe te roep. Haar passie vir honde het sy van haar pa geërf.

“My heel eerste hondjie was die lelikste van hondjies maar hy het diep in my hart gekruip. Hy het in ’n stadium verlore geraak en is agt dae later in ’n verwaarloosde toestand teruggevind.”

Luidens Heunis beskik die regering oor die wil om meer vir diere te doen, maar daar is net te min hande en te min geld. Haar grootste begeerte is om die mooiste en beste sorgsentrum vir verwaarloosde diere te bied. Sy hou graag mense wat met vakansie gaan se diere in haar sorg, maar skerts dat hulle met hul terugkeer dikwels kla dat sy hul honde bederf het.

Heunis voel sterk dat hondelisensies weer verpligtend moet word en dat reëls rondom die aanhouding van diere ingestel moet word. Ook moet sterilisasiegeriewe daargestel word en moet die versorging van diere as deel van die kurrikulum op skool aangebied word. Haar droom vir elke dier is liefde, sorg en ’n veilige blyplek.

“’n Hond is mens se beste vriend maar deesdae hou al hoe meer mense honde vir die verkeerde redes aan,” aldus Heunis.

Hierdie diereliefhebber kook elke dag drie groot potte kos waarmee sy 74 honde en 45 katte voer. Sy kry ondersteuning by wyse van donasies van die Hogsback-gemeenskap en hier plaaslik staan die Moss-gesin haar by met die voer en sterilisering van die diere.

Al die diere onder haar sorg is in uitmuntende kondisie. Dit ten spyt is daar tye wat die sorgsentrum sukkel om kop bo water te hou.

  • Diegene wat hulp of bystand wil verleen kan vir Heunis by 083 643 9643 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.