NÁ die effense daling in die mark op die vorige wolveiling, is die OVK aangenaam verras met ’n styging in vandeesweek se verhandeling.

Die Cape Wools Merino-aanwyser het met 3.1% versterk en gesluit op R189.87 skoon. Dit, ten spyte van die Rand wat sywaarts verhandel het teenoor die VSA Doller, op vlakke van rondom die R11.90.

Dit is vir die OVK goeie nuus, in die opsig dat dit ’n gesonde aanvraag bevestig vir goeie kwaliteit wol en dat kopers aktief meeding in die mark om produk te bekom. Hierdie stelling word verder bevestig deur die styging van 4.3% op die Australiese (EMI) aanwyser, ná ’n drastiese daling op verlede week se veiling.

Die drie top pryse op vandeesweek se veiling van OVK/CMW is behaal deur:

. J.P. Bezuidenhoudt van Richmond (NK) vir ’n een baal lot BH van 16.6 mikron, met ’n vetwolprys van R191/kg. Die koper was Standard Wool.

. H.J. Grobbelaar van Bethulie vir ’n een baal lot CMY van 16.1 mikron, met ’n vetwolprys van R188/kg. Die koper was Standard Wool.

. H.J. Grobbelaar van Bethulie, vir ’n een baal lot BMY van 16.6 mikron, met ’n vetwolprys van R177/kg. Die koper was Segard Masurel.

Die OVK wens hul produsente geluk en bedank hulle vir hul getroue ondersteuning.

Vooruitsigte

Alhoewel dit nog baie droog is in sekere produksiegebiede, is daar egter goeie neerslae aangemeld in groot gebiede, veral in die Oos-Kaap. Goeie veldtoestande sal dus ’n outomatiese positiewe effek teweeg bring op produksie en reproduksie van ons wolproduserende kuddes.

Die vooruitsig is dat steeds goeie wolpryse verwag kan word in die afsienbare toekoms, vanweë die steeds onderdrukte hoeveelhede wat aangebied word. Jaar tot datum is die aanbod tussen 9% en 10% laer as die ooreenkomstige tydperk verlede jaar.

Die vraag daarenteen bly gesond en oorskry steeds die aanbod. Die volgende wolveiling het op 14 Februarie plaasgevind en ongeveer 10220 bale was aangebied.

Terminologie

Gedurende die volgende paar weke gaan die OVK aandag gee aan ’n paar terme wat in die wolbedryf gebruik word en waarmee nie almal altyd vertroud is nie.

Die eerste belangrike term is skoonopbrengs. Dit word uitgedruk in persentasie en is die hoeveelheid skoonwol (dit wat geskik is vir verwerking en vervaardiging van materiaal vir kleding of welke) wat oorbly nadat alle onsuiwerhede uit die vetwol (die wol soos afgeskeer van die skaap) verwyder is. Die onsuiwerhede is alle kontaminasie soos stof, plantsaad en wolvet of lanolien, wat in die natuurlike vorm op die skaap voorkom. Hoe groter die hoeveelheid onsuiwerhede, hoe groter en duurder die chemiese prosesse wat gevolg moet word om dit skoon te maak.

Die wolprys wat deur Cape Wools as aanwyser gebruik word, is die skoonwolprys. Die vetwolprys, is wat fisies deur die kopers op die veiling betaal word en hier speel skoon opbrengspersentasie ’n bepalende faktor. Om pryse van wol te vergelyk, is dit dus noodsaaklik om altyd die skoonwolprys as norm te gebruik.

  • Inligting verskaf deur Heinrich Victor, Operasionele Bestuurder Vesel OVK.

You need to be Logged In to leave a comment.