DIE wolmark het die afgelope week weer swakker vertoon en die Cape Wools merino aanwyser het 438 punte gedaal (sien ook berig hiernaas).
Volgens Louis de Beer, uitvoerende hoof van Cape Wools, het die afgelope paar weke se daling van die gemiddelde prys voortgeduur en het dit ’n negatiewe invloed op alle verskillende tipes wol gehad.
“Die vraag na goeie gehalte lang en fynwol het egter steeds sterk vertoon,” het De Beer gesê.
“Dit was ’n groot veiling, maar seisoenale aflewerings is steeds heelwat minder as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar, wat kommerwekkend is. Kompetisie tussen die verskillende kopers was egter goed, met Modiano (4 546) wat die meeste van die bale wol wat aangebied is, gekoop het.
“Die ander belangrikste kopers was Standard Wool SA (3 455), Tianyu SA (1 802) en Lempriere SA (1 442). Die aanbod wat onder die hamer gekom het, het 12 393 bale beloop, waarvan 97,5% verkoop is,” aldus De Beer.
Die gemiddelde skoon pryse vir die verskillende mikron kategorie was soos volg:
18,0 mikron daal 4,4% en sluit op R208,74/kg
18,5 mikron daal 4% en sluit op R197,18/kg
19 mikron daal 4,3% en sluit op R183,79/kg
19,5 mikron daal 1,3% en sluit op R177,64/kg
20 mikron daal 1,6% en sluit op R172,72/kg
20,5 mikron daal 2,1% en sluit op R169,76/kg
Die volgende veiling is geskeduleer vir 11 April wanneer ongeveer 10 620 bale onder die hamer sal kom, aldus De Beers.