DIE wolmark het vandeesweek vir die derde agtereenvolgende keer gedaal en die nasionale markaanwyser staan tans op R172.64 per kilogram skoonwol.
Volgens Pierre de Lange, wolbemarkingsbestuurder vir OVK, het wol van 19 mikron en fyner met 4% gedaal en 19-20 mikron met 1.6%.
“In teenstelling hiermee het die prys vir 20-22 mikron wol met sowat 1% gestyg. Die sterker mikron-groepe het egter ook 2% slegter vertoon,” het De Lange gesê.
Vooruitsigte
Op die onlangse wolveiling het die mark papper verhandel en volgens die Cape Wools aanwyser sowat 2.5% laer as op die vorige veiling gesluit. Die rede hiervoor is moontlik die feit dat die OVK die afgelope tyd baie hoë en selfs rekordpryse vir wol ervaar het en dat hierdie tendens tans weer besig is om te normaliseer. Uitstekende pryse is egter steeds vir goeie kwaliteit wol betaal, ten spyte van ’n effense daling.
Die Australiese EMI is ook vandeesweek sowat 0.8% swakker daaraan toe, wat toon dat hierdie tendens nie slegs plaaslik manifesteer nie, maar wêreldwyd.
Met die Rand wat ook stewiger verhandel teen die vernaamste geldeenhede is die daling nie só drasties as wat dit op die oog af lyk nie. Die aanbod was ook redelik groot en 12 393 bale is verhandel.
Die vooruitsigte dui nie op drastiese skommelings in die mark nie en die kompetisie onder die kopers bly baie sterk. Volgens die OVK is dit positief vir die mark en toon dit dat die gesonde vraag na wol voortduur.
Die volgende wolveiling sal op 11 April plaasvind, waartydens 10 620 bale onder die hamer sal kom.
Die drie top pryse op die afgelope veiling van OVK/CMW is behaal deur:
. JVS & MW Daly, Wodehouse, vir ’n drie baal lot AFH van 16.6 mikron met ’n skoonopbrengs van 61.69% en ’n vetwolprys van R209.00/kg. Die koper was Standard Wool.
. PJ Van Der Merwe, Richmond (NK), vir ’n een baal lot BH van 15.9 mikron met ’n skoonopbrengs van 64.88% en ’n vetwolprys van R175.00/kg. Die koper was Standard Wool.
. JA Van Der Merwe, Sutherland, vir ’n vier baal lot BH van 15.8 mikron met ’n skoonopbrengs van 62.83% en ’n vetwolprys van R172.00/kg. Die koper was Standard Wool.
OVK het al hul produsente vir die uitsonderlike prestasie geluk gewens en vir hul getroue ondersteuning bedank.
Wenke
Voorkom besoedeling: Wolbesoedeling kos die boer, sowel as die bedryf, baie geld. Dit is veral besoedeling met baaltou en swart- en gekleurde vesels wat die grootste probleem veroorsaak. Maak dus altyd seker dat besoedeling nie tydens die skeerproses, klassering en verpakking voorkom nie.
Skeerskuur en skeerproses
. Maak seker dat daar nie ander rasse, soos dorpers of boerbokke in dieselfde krale hanteer word as merinos voor skeer nie. Kemp is ’n groot bron van besoedeling. Skeer dus altyd woldraende rasse eerste.
. Maak die skeerskuur goed skoon voordat geskeer word.
. Sorg dat baaltou, jute- of goiingsakke, honde en enige los voorwerpe wat in wol kan beland, uit die skeerskuur verwyder word.
. Verskaf genoeg vullisdromme waarin vuurhoutjies, sigaretstompies en ander vullis gegooi kan word.
. Besemhare besoedel ook wol. Gebruik eerder rubberharke of plastiekskrapers om wol bymekaar te vee.
- Hierdie inligting is verskaf deur Heinrich Victor, operasionele bestuurder van vesel – OVK.