Wolmark vertoon sterker weens goeie aanvraag, klein aanbieding

DIE wolveiling het onlangs gestyg teenoor die vorige veiling en die Cape Wools Merino-aanwyser het met 4.1% gestyg en met 741 punte hoër op R189.54/kg skoon geëindig.


DIE wolveiling het onlangs gestyg teenoor die vorige veiling en die Cape Wools Merino-aanwyser het met 4.1% gestyg en met 741 punte hoër op R189.54/kg skoon geëindig.

Die Australiese EMI het weer eens met 2.3% gestyg. Die styging in die plaaslike mark kan toegeskryf word aan die steeds goeie vraag na goeie lang fyn wol, asook ’n relatief klein aanbieding.

Die swakker Rand was ook ’n bydraende faktor en het 3.7% swakker verhandel teenoor die VSA Doller, as die ooreenstemmende tyd verlede week, met vlakke van rondom R12.42. Kompetisie was egter gesond tussen kopers, met Modiano wat die grootste hoeveelheid bale gekoop het.

Wol van 18.0 – 18.5 mikron, het die grootste styging, van tot 4.6% getoon. OVK se hoogste prys van R185.90/kg vandeesweek, is behaal met ’n tweebaal lot CH van 17.0 mikron, uit die skeersel van Argyle Farming Trust, Stutterheim.

Die koper was Standard Wool.

Vooruitsigte

Die styging van die mark is sterker as die beweging van die Rand, wat die steeds positiewe vraag bevestig. Die hoeveelheid wol bly egter steeds by die 8% minder as dieselfde tyd verlede jaar.

Die groot rede hiervoor is die langdurige droogte, wat steeds voortduur in sekere produksiegebiede, veral in die Groot Karoo. Aanteel van die Lente-paarseisoen van verlede jaar is baie laer en lampersentasies onder geweldige druk, as gevolg van die droogte en swak voedingstoestande.

Die positiewe kant egter, is dat verligtende en welkome reëns geval het in groot gebiede, wat weidingstoestande herstel het vir die huidige paar- en lamseisoen.

Wolproduksie behoort dus toe te neem teen die einde van die volgende seisoen. Vanweë die openbare vakansiedag hierdie week, vind die volgende wolveiling plaas op 9 Mei, waar sowat 7 480 bale onder die hamer sal kom.

Die drie top pryse op die afgelope veiling van OVK/CMW is behaal deur:

  • Argyle Farming, Stutterheim, vir ’n tweebaal lot CH van 17.0 mikron, met ’n skoonopbrengs van 69.76% en ’n vetwolprys van R185.90/kg. Die koper was Standard Wool.
  • Orange Grove Merinos BK, Victoria-Wes, vir ’n eenbaal lot AH van 16.1 mikron, met ’n skoonopbrengs van 65.20% en ’n vetwolprys van R185.60/kg. Die koper was Standard Wool.
  • Charmain van den Heever, Brandfort, vir ’n eenbaal lot CH van 15.9 mikron, met ’n skoonopbrengs van 70.04% en ’n vetwolprys van R185.00/kg. Die koper was Standard Wool.

OVK wens hulle produsente hartlik geluk en het hul dank aan hul getroue ondersteuners en kopers uitgespreek.

Wenke

Verpakking:

. Dop wolsakke om en skud deeglik uit buite die skeerhuis, om sodoende los wolsakvesels te verwyder.

Verwyder ook alle vesels en snysels as die bale teen die kante gesny word om in die pers te pas.

. Dit is baie belangrik dat perspenne en hakke altyd skerp en glad moet wees om te voorkom dat wolsakvesels breek en in die wol indryf.

. Wol moet verkieslik gepers word, want die trap van wol versprei die stof in die tip van die wol verder.

. Gebruik papier om wol in verdeelde bale te skei, in plaas van plastiek of ander materiaal wat wol kan kontamineer.

. Maak seker dat merkink nie deur die baal vloei en die wol besoedel nie.

. Gebruik slegs die voorgeskrewe wolbale en sakkies.

Inligting verskaf deur Heinrich Victor, Operasionele Bestuurder Vesel – OVK.

You need to be Logged In to leave a comment.