DIE wolmark het tydens die 21 Februarie-veiling effens teruggesak en die Cape Wools Merino-aanwyser, teen 0.6% swakker, het nie wesenlike beweging getoon nie.
Die nasionale markaanwyser staan tans op R183,84 per kilogram skoonwol. Wol van 19 mikron en fyner het met 1% gedaal terwyl wol van 20 mikron teen onveranderde prys verhandel het.
Daar teenoor het die prys van 22 mikron wol met sowat 1% gestyg terwyl wol van 22 mikron en sterker op onveranderde prys vasgeskop het.
Die kompetisie bly steeds goed en sowat 99% van die aanbod is van die hand gesit. So het Pierre de Lange, wolbemarkingsbestuurder vir OVK, gesê.
Goeie kwaliteit fyn wol het steeds baie goed verhandel. Modiano en Standard Wool het die top pryse op die OVK/CMW veiling betaal.
Die OVK het die Kerneels Greyling Trust, wat ’n rekordprys van R216.80 behaal het vir 15.6 mikron wol, hartlik gelukgewens. Die koper was Standard Wool.
Op die kort tot medium termyn verwag die OVK dat die tendens sal voortduur omdat dat die vraag en kompetisie tussen kopers baie gesond is. Dit ook te midde van die Australiese EMI aanwyser, wat met effens hoër verhandeling eerder sywaarts beweeg het.
Die drie top pryse op vandeesweek se veiling van OVK/CMW is behaal deur:
. Die Kerneels Greyling Trust van Wakkerstroom vir ’n twee baal lot ANKS van 15.6 mikron met ’n skoonopbrengs van 72.82% en ’n vetwolprys van R216.80/kg. Die koper was Standard Wool.
. Die Kerneels Greyling Trust van Wakkerstroom vir ’n twee baal lot AFFY van 15.6 mikron met ’n skoonopbrengs van 69.72% en ’n vetwolprys van R208.40/kg. Die koper was Standard Wool.
. Die Kerneels Greyling Trust van Wakkerstroom vir ’n twee baal lot ANKS van 15.6 mikron met ’n skoonopbrengs van 67.48% en ’n vetwolprys van R207/kg. Die koper was Standard Wool.
Die OVK wens hul produsent geluk met die uitsonderlike prestasie en bedank hulle, sowel as die kopers, vir hul getroue ondersteuning.
Vooruitsigte
Wat ’n rol kan speel in die prys op die kort tot medium termyn, is die posisie van die Suid-Afrikaanse Rand teen die vernaamste wêreld geldeenhede, veral ná die begrotingsrede wat deur die voormalige Minister van Finansies, Malusi Gigaba, in die parlement gelewer is en die aankondiging dat BTW met 1% sal styg.
Dit is die eerste styging sedert 1993. Die begroting is oor die algemeen as redelik positief beskou deur ekonome wat verdere afgradering deur internasionale graderingsagentskappe kan verhoed. Die posisie van die rand is tans bestendig stewiger teen die VSA Dollar en ander vername geldeenhede.
Die hoeveelheid wol wat aangebied word, bly egter steeds onder druk en behoort die vraag te stimuleer.
Die volgende wolveiling het op 28 Februarie plaasgevind waar sowat 8 440 bale op katalogus 24 aangebied was.
Terminologie
Hierdie week se belangrike term is “treksterkte”.
Dit kan gedefinieer word as die weerstand wat individuele wolvesels in ’n wolstapel bied teen spanning en wrywing.
Dit word bepaal in die wolstapel, gewaste kambol en uiteindelik in die duursaamheid van die geweefde eindproduk. In die vetwolstadium word treksterkte gegradeer as:
. Gesonde stapels, wat dwarsdeur geen breek sal hê nie.
. Tenger stapels, wat op enige plek ’n verswakking in die veselgroei kan hê en wat met redelike spanning uiteindelik sal breek.
. Breekstapels, wat meteens sal breek wanneer dit tussen die vingers getokkel word. Hierdie breekwol word TDR gemerk en die getoetste treksterkte word uitgedruk in Newtons per kilotex en verteenwoordig die krag in Newtons om ’n stapel van een kilotex in dikte, te breek.
) Inligting verskaf deur Heinrich Victor, Operasionele Bestuurder: Vesel OVK.