MET die Rand wat vandeesweek verder versterk het teenoor die VSA Doller en in navolging van ’n 0,6% daling op die Australiese mark, moes pryse op die OVK se mark ook inboet.
So sê Pierre de Lange, bestuurder van Wolbemarking van OVK. Lang fynwol van 19 mikron en fyner het met sowat 3% gedaal en wol van 19-20 mikron was 2% swakker daaraan toe.
Wol van 20-21 mikron het teen onveranderde pryse verhandel, maar 21 mikron en sterker moes ook 1% inboet. Die swakker gehalte kortwol het egter die ergste deurgeloop en met soveel as 15% geval.
Daar was eenvoudig geen aanvraag vir die kategorie nie. Nogtans was die kompetisie onder kopers stewig en is sowat 99% van die geheel-aanbod van die hand gesit.
OVK se topprys van R175.10 vandeesweek is behaal vir ’n BH-lot van 17,5 mikron uit die skeersel van Ross Flanagan van Waterfall Farming in die Stutterheim-distrik.
Die OVK wens Flanagan geluk met die puik prestasie. Die koper was Tianyu.
Die drie top pryse op die tweede veiling van OVK is behaal deur:
. G.H. Sephton van Waterfall Farming, Stutterheim, vir ’n een baal lot BH van 17.5 mikron met ’n vetwolprys van R175.10/kg
. G.H. Sephton van Waterfall Farming, Stutterheim, vir ’n een baal lot CH van 16.8 mikron met ’n vetwolprys van R166/kg
. Blue Crane Wool & Mohair, Somerset-Oos, vir ’n baal AH van 16.7 mikron met ’n vetwolprys van R163.10/kg
Die OVK wens hul produsente geluk en bedank hulle vir hul getroue ondersteuning.
Vooruitsigte
Op vandeesweek se SA-wolveiling het pryse oor die hele spektrum sywaarts beweeg, met ’n effense daling, te midde van ’n 1% week-op-week versterking van die Rand teenoor die VSA Doller, asook ’n daling in die Australiese mark, wat normaalweg ’n beduidende rigtingwyser is vir die SA-wolmark.
Die Australiese Markaanwyser (EMI) het die grootste een-week daling van 57 Australiese sent getoon sedert Junie 2015. Ten spyte van genoemde gebeure is daar steeds gesonde kompetisie onder kopers in die SA-wolmark te bespeur en verwag die OVK nie drastiese verandering in die nabye toekoms nie.
Gegewe ook die feit dat die aanbod beduidend laer is, in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar, wat grootliks toegeskryf kan word aan die steeds knellende droogte in groot dele van die wolproduserende streke in SA.
Goeie pryse vir goeie kwaliteit wol word steeds verwag om te voldoen aan die vraag. Vir die veiling wat op 7 Februarie plaasgevind het, is daar ongeveer 5 300 bale aangebied op katalogus 21.
- Inligting verskaf deur Heinrich Victor, Operasionele Bestuurder Vesel OVK.