Wyn proe anders met jou tong in jou kies

“ANT Libby!” roep ek gang-af in my buurvrou se huis. “Dis koffietyd!”.


“ANT Libby!” roep ek gang-af in my buurvrou se huis. “Dis koffietyd!”

“Kombuis!” kom die antwoord. Sy sit by die groen panelite tafel, ken op die hand gestut.

“En nou?” vra ek. “Gaan ons koffie?”

“Nee, ons gaan wyn!”

As inkommer in die Karoo het ek geleer as ’n mens lank genoeg stilbly, ’n mens baie dinge sal hoor. Dit ís toe ook so. Ant Libby praat voort, blik nikssiende uit by die agterdeur na die hoenders ver in die agterplaas.

“Tjag, dis maar goed Pappie leef nie meer nie. Dié ding sou sy einde bete-ken. So kom haal Issie en Marta my gist’raand vir ’n kerkding. ’n Kérkding, sê ek jou. En toe ons daar kom, toe staan dit daar. Die gruwel. In die heiligdom. Bottels en bottels wyn. In die kerksaal. En Pappie sou sê kerkgrond is kerkgrond! Draai in sy graf om.

“Maar toe’s die koeël klaar deur die kerk en ek sit sonder vervoer en Marta sê ek moet bly, die kaartjies kos geld en sy’t my gestick, want dis vir ’n goeie doel en die doel heilig die middele.

“Die wyn kom alliepad van Wellington af. Saam met ’n hele spul gemeentelede en ’n hele klomp snoek. ‘Klink my na ’n fishy besigheid,’ fluister ek nors vir Issie.”

“En toe, ant Libby? Lóóp Antie toe huis toe?” vra ek, ter nagedagtenis aan Pappie.

“Nooit!” sê sy. “Toe próé ons. Wyn. En daar was wors. En nou weet ek ook hoe paar ’n mens wyn met kos. Die man sê sterk kos, sterk wyn. Of andersins sit jy by sterk kos ságte wyn. ‘So eenvoudig,’ sê ek vir Marta, ‘enige kos by enige wyn.’

“’n Mens mag rooiwyn skud, soos mirresyne, maar nie waar mense jou kan sien nie. Rooiwyn moet asemhaal, so jy hou die bottel skuins as jy diekênt, soos die man sê, en jy hou die glas skuins, ‘en sommer jou kop ôk,’ sê ek vir Issie, en toe giggel ons.”

“Wyn is duur,” sê ek.

“Koop net één,” sê sy. “Die wynman sê mens koop ’n Cabernet/Merlot versnit, dan’s almal happy. Geskryf met ’n ‘t’, maar mens sê ‘ou’ aan die einde, en hy sê CAbernet, soos CARburettor.”

“Daar’t ’n oogdokter ook saamgekom. Hy sê rooiwyn gee mens toe-komsvisie, en sjatou libertas is ’n wyn gemaak van spoegbakkies. Tóé eers sien ek en Marta en Issie daar’s ’n glasie vir uitspoeg. Maar toe’s dit al te laat. En sal jy glo? Toe wil die man hom opstêrs hou en vertel húlle dominees het Pinkster gepreek oor drank en losbandigheid. Toe verêrre ek my, want dis húlle wat kom drank gooi in die kerksaal.

“Wat is die verskil tussen bottel- en bokswyn? vra iemand. ‘Kopseer,’ antwoord die wynsnob. Issie sê nee, Emsie Schoeman sê mens sê eerder dooswyn, want ‘boks’ is Ingels, en ons het hulle nog nie vergewe nie.

“‘Ag, Issie,’ sê ek, ‘Bokswyn, dooswyn, same thing. Maar bokswyn drink mens saam met Karoolam. En dooswyn? Saam met snoek!’

“Sit aan die ketel, kind. Ek dors ’n koppie boeretroos.”

You need to be Logged In to leave a comment.